“Ons is nie ‘bo jongens’ nie en die Stad moet nie die inwoners van Atlantis so behandel nie,” het Dawood Hendricks, voorsitter van Atlantis Black Business Association (ABBA) amptenare van die Stad Kaapstad tydens die openbare deelname oor die voorgestelde begroting vir 2021-’22 toegesnou.
Hendricks het sy uitlating regverdig met die woorde: “Hoekom is hier geen amptenare van die verskillende departemente om hul hap van die begroting aan ons te verduidelik nie?” wou hy weet.
Inwoners en politieke partye het Woensdag 14 April hul stem by die vergadering laat hoor. Volgens die opposisie- proporsionele raadslid Fiona Abrahams was die vergadering ’n grap omdat net 50 mense volgens Covid-regulasies toegelaat word. Volgens Abrahams kon die Stad meer gedoen het om insae uit die gemeenskap te kry. “Die vergadering moes uitgebrei wees en elke area in Atlantis kon hul eie vergadering hê om insae meer verteenwoordigend te maak. Daarom ondersteun ons nie die begroting nie,” het Abrahams gesê.
Die gemeenskapsaktivis Peter Stoffberg het as volg uitgevaar: “Die stadsvaders kan weens alle basiese dienste wat duurder word, meer doen om werkskepping te verseker.”
Volgens Stoffberg bestee die Stad Kaapstad baie geld om strande te opgradeer terwyl Covid-19 “nog lank met inwoners gaan wees”. “Die geld kon gaan vir noodverleniging en ander selfonderhoudende projekte.”
Terwyl skole en atletiekklubs reeds jare lank kerm oor beter beskerming op die veld, is geen geld in die boekjaar vir opgraderings begroot nie terwyl die Pella-sportveld en Mamre-sakekerns elk R300 000 vir opgraderings kry. Subraad 1 het geen geld beskikbaar vir fase twee van die Kanonkop-behuisingsprojek nie en R20 m. word eers vir 2023-’24 beplan terwyl R6,4 m. vir GAP-behuising begroot is.
In wyk 32 word R200 000 nou vir fase 2 van die sportveld-opgradering begroot terwyl R300 000 vir sypaadjie-opgraderings beplan word.
Wat inwoners egter onthuts laat, is die R25 miljoen-opgradering vir Dunoon in die nuwe boekjaar.