Terwyl die bloed vrylik in ander dele van die Kaap gevloei het met klippe wat gegooi is en busse wat gebrand het, het min voorvalle van geweld hier tydens die taxi-staking voorgekom.
Verlede week se staking was ná die beslaglegging van minibustaxi’s deur wetstoepassers van die Stad Kaapstad en nadat die taxivereniging Santaco die staking aan die begin van die maand afgekondig het.
Die drama het gevolg nadat die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smit, streng verordeninge aangekondig het oor die beslaglegging van voertuie en taxi’s. Die Stad het volhard dat wetteloosheid nie geduld gaan word nie en dat bestuurders wat nie permitte of rybewyse het nie of onpadwaardige voertuie ry, se voertuie afgeneem sal word.
Die staking het alle pendelaars van werkers tot skoolkinders geraak.
Plaaslike taxi-eienaars en -bestuurders het die staking van Vrydag 4 Augustus af ondersteun en pendelaars meen hulle is in die steek gelaat.
Volgens James Boardman van Robinvale is hy woedend omdat hulle inderdaad ander planne vir vervoer moes maak.
Boardman, wat by ’n plaaslike fabriek werk, sê hy en van sy kollegas het besluit om die taxibedryf te boikot en sal voortaan private vervoer gebruik.
Hy voel baie plaaslike mense moet dieselfde doen.
“Ons families en baie ander word deur die optrede geraak en ons voel (die taxivereniging) kon beter met die situasie te werk gegaan het.”
Volgens kol. Cyril Nkuna, die plaaslike stasiebevelvoerder, is ses skoolkinders Saterdag 5 Augustus saam met ’n taxibestuurder aangekeer nadat die voertuig waarin hulle gery het, vol motorbande was. Die insittendes is weens aanhitsing tot geweld in hegtenis geneem.
In ’n tweede voorval, wat die tonge los het, is ’n taxibestuurder glo voor die kinders geslaan. Dit blyk terwyl die kindertjies benoud geskree het, het vroue ’n slaner aangemoedig.
Tydens die staking het sommige taxibestuurders steeds mense vervoer. Nkuna het bevestig geen plaaslike winkels of ondernemings is geplunder nie. Die staking is Donderdagaand (10 Augustus) amptelik afgestel ná suksesvolle gesprekke tussen die partye.
Volgens Nkuna is ’n Atlantis-polisielid ernstig beseer toe sy in ’n boom vasgery het. Die boom, wat dwars oor die ou Mamre/Darling-pad gelê het, is glo Saterdagoggend 5 Augustus deur stakers afgesaag. Dit het ook drie ander ongelukke veroorsaak.