Minnies bly in Atlantis

Die viermalige Suid-Afrikaanse primêre skole-atletiekkampioen, Dwayne Minnies (12), sal sy skoolloopbaan in Atlantis voltooi danksy ’n Amerikaanse skolesportagentskap.


Die viermalige Suid-Afrikaanse primêre skole-atletiekkampioen, Dwayne Minnies (12), sal sy skoolloopbaan in Atlantis voltooi danksy ’n Amerikaanse skolesportagentskap.

Volgens ’n woordvoerder van Athletes USA, ’n skolesportagentskap, sal Minnies deel van ’n groep plaaslike atlete wees wat ’n intensiewe program tot ná matriek sal volg waarna hy verder in die VSA sal studeer.

Minnies is na afloop van sy suksesvolle sei­soen by die Suid-Afrikaanse atletiekkam­pioenskap by van die land se topskole in aanvraag. Volgens Athletes USA beskou hulle Minnies se afrigter, Taswell Adams, as ’n wêreldklas-sportman en sal hy beslis as die jong atleet se afrigter aanbly omdat hulle glo dit is danksy Adams se harde werk en toegewydheid dat Minnies soveel sukses op die atletiekbaan behaal het.

Volgens Chris Vidal, eienaar van die agentskap, het hulle 1 Junie Saxonsea Primêr vir ’n vergadering met die nasionale kampioen se ouers en ander rolspelers besoek.

Vidal sê voorts die plan is om ’n plaaslike akademie te open waar die dorp se topsportseuns en -meisies sal kan baatvind.

“Atlantis het baie potensiaal en groter skole lek hul lippe vir die dorp se talent af. Ons wil seker maak atlete soos Minnies se talent word in die dorp ontgin, want dit maak van hulle rolmodelle in Atlantis wat gebuk gaan onder bendegeweld en dwelmmisbruik,” meen Vidal.

Jody Burch sal voortaan atlete in die program mentor en sal hulle ook teen die sosiale euwels van die dorp beskerm.

“ ’n Gemeenskapprojek, wat binnekort van stapel gestuur word, sal ook verseker atlete skeep nie hul skoolwerk af nie, want akademiese vordering is ’n vereiste vir dié program,” meen Vital.

Volgens Adams sal die hele Atlantis baat by die projek vind en nie net een of twee mense nie. Hy sê voorts dit is baie spesiaal vir Atlantis dat ’n internasionale organisasie in die plaaslike jongmense belê en nie net op sport konsentreer nie, maar ook op akademiese vlak.

“Die belangrikste deel van dié projek is dat die ontwikkeling van plaaslike talent, van die beginjare tot sterstatus, in Atlantis ontwikkel sal word. Dit sal verseker dat ons rolmodelle in die gemeenskap het wat deur die gemeenskap geskep is wat ook verder die jeug sal motiveer,” sê Adams.

You need to be Logged In to leave a comment.