Die polisie ondersoek ’n klag van moord nadat ’n 24-jarige man op 12 Mei geskiet is. Volgens kapt. Cyril Dicks, ’n polisiewoordvoerder, het die oorledene en vriende in Malgasstraat gestaan toe ’n onbekende man hulle nader en begin skiet. Volgens Dicks het die oorledene op die toneel aan verskeie skietwonde beswyk. Enige persoon met inligting kan AO Chris van Wyk by 021 571 8500/8553 bel.
Die gemeenskap word gevra om die polisie te kontak met inligting oor die moord van ’n 25-jarige man in Nerinastraat op 7 Maart. Volgens Dicks is die man in die vroeë oggendure by ’n huispartytjie geskiet terwyl hy buite gestaan het. Die man het op die toneel gesterf en die verdagte het gevlug. Enige persoon wat die polisie kan help, kan konst. Christians by 021 571 8540 of 061 439 7652 bel.
Verskeie mense is aangekeer tydens ’n misdaadvoorkomingsoperasie Saterdag 9 Mei. Volgens kapt. Cyril Dicks is ’n man in Buntingsingel, Robinvale aangekeer toe die polisie tik in sy kamer gekry het. Nog twee mans is in Kingfisherpark aangekeer toe die polisie verskeie dwelms by hulle gekry het. Die mans, 23 en 28 jaar oud, is aangekla vir handel in dwelms.


