Gaan kyk na jou verhoudings.
Dit is die boodskap wat Patricia Noyoo, Stad Kaapstad se bestuurder vir haweloses, aan ’n gehoor van sowat 150 mense oorgedra het by Atlantis Women’s Movement se 16 dae van aktivisme-funksie.
Die praatjie op die voorlaaste dag van die 16 dae van aktivisme-inisiatief, is in samewerking met die Internasionale Vroue Vredesgroep en die DA-vrounetwerk by die Rebecca van Amsterdam-gemeenskapsaal gehou.
’n Stigterslid van die Atlantis Women’s Movement en wyksraadslid, Barbara Rass, het gesê die geleentheid moet gebruik word om die 16 dae van aktivisme te vier. “Ons vier hierdie dag, want dit is die dag dat verandering gaan plaasvind.”
Proporsionele raadslid Greg Barnardo, ook seremoniemeester, het aan die gaste gesê indien jy nie mishandeling by die owerhede rapporteer nie, dan ondersteun jy dit.
Noyoo het verder genoem mishandeling begin in die huis. “Kies jou woorde versigtig wanneer jy met jou kinders praat. Die resultate van jou kragtige woorde kom eers agterna.”
Sy het ook gesê wanneer iemand meer verwag as wat jy kan gee, kan dit ook ’n vorm van mishandeling wees.
Denise Robinson, voorsitter van die DA-vrouenetwerk, het op haar beurt gesê, elkeen se menseregte moet beskerm word en inwoners het ’n reg op respek.
“Praat uit en rapporteer verkragtings en mensehandel. Die polisie, nasionale vervolgingsgesag en howe het ’n verantwoordelikheid teenoor ons as inwoners.”
In haar toespraak het Robinson ook gesê dit is onaanvaarbaar dat daar in die hele gebied slegs vyf polisielede in die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe werk en dat almal mans is.