Mites wat jy oor jou testament moet weet

Indien jy nie ’n testament het nie of ’n verouderde testament het, is dit nou ’n goeie tyd om een te laat opstel. Gedurende Testament Week 11 tot 15 September, doen baie Prokureurs dit ook gratis.


Indien jy nie ’n testament het nie of ’n verouderde testament het, is dit nou ’n goeie tyd om een te laat opstel. Gedurende Testament Week 11 tot 15 September, doen baie Prokureurs dit ook gratis.

Hier is bekende mites en wanopvattings as dit by testamente kom.

¦Ek is nog te jonk om ’n testament te benodig.

Hoe ouer jy raak, hoe groter die kans dat jy van natuurlike oorsake sal sterf. Jonger persone is blootgestel aan ’n hoër risiko van afsterwe in motorongelukke of ander gewelddadige omstandighede.

Statistieke wys dat 80% van diegene wat in padongelukke tot sterwe kom, in die ouderdomsgroep van 19 tot 34 val. Jou ouderdom of gesondheid bepaal nie wanneer jy sal sterf nie.

¦Ek is te besig. Dit moet maar wag.

Hoe besiger ons raak, hoe makliker is dit om dit uit te stel. Dis ongerieflik, ons het nou ander prioriteite en wie wil nou met hul eie sterflikheid gekonfronteer word. Onge­lukkig weet niemand wanneer daardie dag aanbreek nie. Die moeite wat jy jouself dalk gespaar het, gaan deur dié wat agterbly, gedoen moet word.

¦Dis ook nie so erg om sonder ’n testament dood te gaan nie.

Met ’n testament het jy darem die geleentheid om self te besluit oor hoe jou boedel en jou bates toegewys moet word.

Jy besluit self aan wie jy jou boedel wil toevertrou en hoe dit beredder moet word.

Sonder ’n testament kom jy intestaat tot sterwe. Die Wet op Intestate Erfreg bepaal dan hoe jou boedel verdeel moet word, nie jy nie.

Jou nagelate lewensmaat gaan dalk net ’n kindsdeel van jou boedel kry, terwyl sy eintlik die hele boedel benodig om aan te gaan. Jy het geen aandeel in die aanstelling van jou eksekuteur of van voogde vir jou minderjarige kinders nie. Jy het dus ook nie ’n sê in die aanstelling van trustees om jou minderjarige kinders se gedeelte in trust te hou totdat hulle self regtens daaroor beheer kan neem nie.

Minderjarige kinders se erflatings sal by die Meester se Voogdyfonds inbetaal word en aan hulle uitbetaal word wanneer hulle 18 word.

Indien jy nie formeel getroud was nie, maar wel ’n lewensmaat agterlaat, kan dit aanleiding gee tot hewige twiste en selfs litigasie tussen jou lewensmaat en jou familie.

¦Ek is op my eie en het geen bates nie, so ’n testament het geen doel nie.

Dit is onwaarskynlik dat jy geen bates gaan hê nie. ’n Voertuig, bankrekening, die bydraes tot jou werkgewer se pensioenfonds en die waarde wat daarin opgebou het, selfs ’n versekeringseis wat jou boedel moontlik mag hê. Al het jy nie ’n lewensmaat of kinders wat jy agterlaat nie; wat van ouers, broers of susters, of nabye familie?

Die werklikheid is dat iemand naby aan jou sal moet help om jou boedel aan te meld en af te handel.

You need to be Logged In to leave a comment.