Mnr. SA-finalis wil terugploeg deur sport

“My droom is om ’n nie-winsgewende organisasie te stig, om saam met kinders te werk en ’n rolmodel te wees vir hulle.”.


Heinrich Gabler, een van die top 14-finaliste van Mnr. SA, sê hy wil net ’n verskil maak en ’n rolmodel wees. Foto: Liezl Mathee/Liezl Photography

“My droom is om ’n nie-winsgewende organisasie te stig, om saam met kinders te werk en ’n rolmodel te wees vir hulle.”

As ’n onderwyser by Laerskool van Riebeeckstrand in Melkbosstrand en ’n bekende in sportkringe, is Heinrich Gabler (25) sedert ’n jong ouderdom besig om ander te motiveer om hul volle potensiaal te bereik.

Gabler is vanjaar ’n finalis in die Mnr. SA-kompetisie.

Maar die lewe was nie altyd maklik vir hierdie jongman nie, hy het sy ma op 11-jarige ouderdom aan die dood afgestaan en sy pa het twee jaar voor dit reeds pad gevat. Hy het dus in die weeshuis in Wellington grootgeword.

Sy aanneem-ma is ’n ligpunt in sy lewe en tog het hy verkies om slegs naweke en vakansies by die gesin te gaan bly. “My aanneem-gesin het my alles gegee wat geld nie kan koop nie. Maar ek het gevoel ek het ’n doel in die weeshuis. Ek het die ander gemotiveer, hulle moed ingepraat.”

By die skool het Gabler sport ontdek en dit het sy uitlaatklep geword. “Sport het my ’n sense of belonging gegee, veral rugby. Ek kon myself uitleef, myself express.”

Gabler sê, daar was nooit tyd om verkeerde dinge te doen nie, want sport was sy “go-to place”.

Hy het gereeld interaksie met atlete van Atlantis en is ’n lid van die Velocity-atletiekklub.

Gabler meen sport is ’n alternatief vir die jeug in Atlantis. “Dit laat jou beter voel. En gee jou ’n gesonde liggaam, wat lei tot ’n gesonde gees.”

Die gemeenskap kan ook ’n rol speel deur jongmense te motiveer. “Moedig hulle aan, praat goed van hulle. Ons woorde dra krag.”

Gabler se advies aan jongmense is om in jouself te glo en om jouself lief te hê.

Die Mnr. SA-kompetisie is vir Gabler ’n platform om meer mense te bereik, sodat hy meer kinders kan help deur sport en sê, “om die top 14 te bereik het reeds baie deure vir my oopgemaak”.

.Stem gerus vir Heinrich Gabler deur ’n SMS met die woorde Mr SA 036 na 47439 te stuur. SMSe kos R3. Die wenner word op 24 November gekroon.

You need to be Logged In to leave a comment.