Moeg vir kat-en-muisspeletjie . . .

Die storm oor Atlantis se Sassa-kantoor wat verlede maand gesluit is, wil net nie bedaar nie.


Die storm oor Atlantis se Sassa-kantoor wat verlede maand gesluit is, wil net nie bedaar nie.

Amptenare van die departement van arbeid het die kantoor gesluit nadat hulle bevind het dié kantoor is ’n gesondheidsrisiko vir werkers en besoekers.

Nou sit Atlantis sonder ’n Sassa-kantoor. Meer as 500 begunstigdes moes noodgedwonge na die Mamre-kantoor reis net om Donderdag 6 Desember uit te vind hulle kan nie gehelp word nie.

Volgens Margaret Adonis, ’n begunstigde, het mense reeds in die vroeë oggendure by die saal gewag. Sy vertel dat alles glad verloop het totdat amptenare van die stad Kaapstad en die polisie Sassa-werkers meegedeel het die saal se huur is nie betaal nie. Hulle is gesê om onmiddellik te ontruim.

Begunstigdes wat hul vorms moes inhandig, was woedend. Hulle meen daar word kat en muis met hulle gespeel terwyl hulle bekommerd is of hulle hul toelae sal ontvang.

Die groot groep mense het antwoor­de by amptenare gesoek, maar moes steeds in die dwaal huiswaarts keer.

Polisiebeamptes het hul hande vol gehad met oproeriges wat Sassa-amptenare ingesluit het. Hulle is glo “siek en sat vir die kat-en-muis-speletjie”.

Amptenare kon net skouers optrek en sê hulle weet nie wat aangaan met die perseel nie aangesien hulle meegedeel is die kwessie is opgelos.

Adonis en ’n groep ongelukkiges het egter na die bekendstelling van die spesiale ekonomiese sone (SES) opgeruk waar pres. Cyril Ramaphosa en verskeie kabinetministers was.

Die groep was vasberade om antwoorde te kry.

Volgens die proporsionele raadslid, Fiona Abrahams, het Sassa die R4 miljoen wat aan die stad Kaapstad geskuld was betaal en het amptenare van die Stad dus die saal van Dinsdag 11 Desember beskikbaar gestel.

Met Weskus Nuus se besoek aan die saal Dinsdag het Henry de Grass, Wes-Kaapse waarnemende algehele bestuurder, gesê die Avondale-saal sal vir die volgende drie maande Sassa se tuiste wees. Hy sê verder ekstra personeel sal ingebring word om die agterstand uit te wis.

“Indien alles volgens plan verloop, sal begunstigdes se nuwe en heraansoeke reeds einde Desember uitbetaal,” meen hy.

De Grass het sekerheid gegee dat Sassa beslis in die nuwe jaar meer toegankliker vir inwoners sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.