Nicro, ’n organisasie sonder winsbejag, het onlangs sy misdaadbekampingprojek van stapel gestuur om jong, skoolgaande kinders te wys “wat werklik in die wêreld aangaan”.
Die projek is van 16 April tot 22 Mei by Proteas Sekondêr aangebied.
Volgens Wendy Florence, die fasiliteerder van die 12 werksessies, was dit ook ’n geleentheid vir leerders om hul identiteit te vind deur lewensvaardighede op te doen en ander se ervarings te hoor.
Die sessies het alles gedek van selfvertroue tot inligtingsessies oor die plaaslike beradingsentrum, Atlantis Drug Counselling Centre.
Natalie Manuel, een van die gassprekers, het vertel van haar 15 jaar lange stryd teen dwelms. Manuel het vertel hoe sy vyf jaar lank op straat moes woon as gevolg van die keuses wat sy gemaak het. Sy het bygevoeg dwelms benadeel nie net gebruikers nie, maar almal om hulle. “Dit is jou toekoms wat jy verwoes, want tans moet ek nog vyf jaar wag vir ’n misdaadklaring voordat ek weer vir werk aansoek kan doen,” het sy gesê.
Manuel het die leerders aangemoedig om gefokus te bly en betrokke te raak by positiewe buitemuurse aktiwiteite soos sport sodat hulle “nie in dieselfde bootjie” as sy beland nie.