‘Moet nooit vergeet waarvandaan jy kom nie’

Dr. Wilbur Kraak is een van die nederigste mense wat jy ooit sal ontmoet. Joline van der Merwe het met hom oor sy passie vir sport en jeugontwikkeling gesels.


Vertel ons lesers ’n bietjie van jouself? Ek is 34 jaar oud en ’n boorling van Mamre en die oudste van twee. My ouers is Wilfred en Alna Kraak. Ek is getroud met Mirinthea en ons het ’n seun, Wilrque. My stokperdjie en passie is sport en die ontwikkeling van jongmense. Ek geniet dit om rugby af te rig, ander op te lei as afrigter en veral om meer te lees oor sport en leierskap.

Wat se soort werk doen jy en waar werk jy? Ek is ’n dosent en navorser in rugby aan die Universiteit Stellenbosch (US).

3. Hoe het jy op jou beroep besluit? Ek wou altyd in die sportbedryf wees en as dosent laat my roeping my toe om jongmense in hul loopbaan by te staan. My werk is om navorsing te doen en ek wil graag die spel verbeter en ’n bydrae lewer. My pad na my huidige pos was ’n voorgraadse diploma en ’n graad wat vyf jaar geneem het en toe nog agt jaar, waarin ek my honneurs- en meestersgraad aan die Noordwes-Universiteit voltooi het. Ek het daarna my doktorsgraad by US voltooi.

Verduidelik kortliks wat jou werk behels? By die universiteit gee ek klas vir voorgraadse studente. Klasgee beteken ook administratiewe werk en baie merkwerk. Ek lei ook nagraadse studente op, doen rugbynavorsing, plaaslik sowel as internasionaal.

Watter eienskappe maak jou goed in jou werk? Om goed te wees in die bou van menseverhoudings is baie belangrik. Saam met dit gaan natuurlik harde werk en buigbaar in situasies gepaard.

Beskryf jouself in drie woorde? Nederig, gemotiveerd en trots.

Wat is die sleutel tot jou sukses? Ek glo dis harde werk, my deursettingsvermoë en my liefde vir mense. My liefde vergemaklik die menseverhoudinge en netwerk wat ek doen. Dis ook belangrik om nederig te wees en moet nooit vergeet waarvandaan jy kom nie.

Wie of wat is jou grootste inspirasie/motivering? My oupa en my vrou.

Wat wil jy nog graag in die lewe bereik? Ek sal graag die Springbokke wil afrig.

You need to be Logged In to leave a comment.