Monica groet vir eers die koerantwese

Omtrent 10 jaar gelede het ’n onskuldige, avontuurlustige jong vrou die Weskus Nuus-kantoor binnegestap op soek na ’n nuwe uitdaging.


Omtrent 10 jaar gelede het ’n onskuldige, avontuurlustige jong vrou die Weskus Nuus-kantoor binnegestap op soek na ’n nuwe uitdaging.

Willie Martin het haar onder sy bekwame vlerk geneem en touwys gemaak oor die nukke en grille van die koerantwese. Laat aande en dreigende spertye was aan die orde van die dag. Tot en met Willie se ontydige dood twee jaar gelede het die wenduo (met bietjie hulp van ander ook) Weskus Nuus ’n entiteit in die Atlantis-gemeenskap gemaak.

Die tyd het egter aangebreek vir Maxie Monica Herne (33) om ook vir eers van haar Weskus Nuus-familie afskeid te neem. Monica is weer op soek na nuwe uitdagings, nuwe avonture en nuwe vooruitsigte.

Sy meen dis ’n opwindende, dog angsbevange tydperk in haar lewe, maar ’n kans wat sy met albei hande moet aangryp.

Monica, ’n ma van drie pragtige kinders, het al elke “hoed” in die Weskus Nuus-kantoor gedra, soos mens maar doen in ’n klein kantoor; koffiemaker, skoonmaker, joernalis, verkoopsverteenwoordiger, kantoorbestuurder, fotograaf, en soms ook sielkundige en raadgewer. Haar hande staan vir niks verkeerd nie.

In haar toekomsplanne is daar reeds verskeie projekte in die pyplyn, maar sy sien dit ook as ’n geleentheid om meer tyd met haar familie en kinders deur te bring.

Een ding is duidelik, die diep spore wat Monica en Willie in die Atlantis-gemeenskap getrap het, sal nog in die toekoms voort leef.

“Monica, ons jou kollegas gaan jou stil, sterk persoonlikheid mis op kantoor, maar dis ’n riem onder die hart om te weet jy is slegs ’n oproep weg. Ons wens jou alle voorspoed toe met die nuwe fase in jou loopbaan.

“Carpe Diem!”

You need to be Logged In to leave a comment.