Weskus Nuus het Vrydag 30 November sy mooistes gekroon.
Mej. Weskus Nuus is jare lank die grootste skoonheidskompetisie in die Atlantis-gebied en het na ’n afwesigheid van vier jaar weer sy terugkeer gemaak. Die streek se bekendste modelle het hul beste voetjie voorgesit om as die wenner gekroon te word.
Sowat 60 meisies het vanjaar ingeskryf om in die kleuter-, juniors- en senior kategorieë mee te ding. Die eerste ronde van die skoonheidskompetisie is 26 Oktober gehou. Uit die 60 is 31 meisies gekies om aan die eindronde deel te neem.
Volgens Joline van der Merwe, redakteur van Weskus Nuus en ook een van die beoordelaars, is Mej. Weskus Nuus iemand wat kan optree as ambassadeur vir die koerant.
“Ons het gesoek na iemand wat spontaan met ander kan kommunikeer en die koerant as handelsmerk kan ondersteun. Die wenner gaan Weskus Nuus in die gemeenskap verteenwoordig en leiding neem met ons korporatiewe sosiale inisiatiewe.”
Clement Trussel, verkoopverteenwoordiger by Weskus Nuus en een van die organiseerders van dié skoonheidskompetisie, sê Mej.Weskus Nuusgaan beslis weer ’n jaarlikse instelling word.
“Ons is reeds besig om aan maniere te dink om dit volgende jaar selfs groter en beter te maak!”
Weskus Nuus se uitgewer, Aletta Ellis, bedank graag al die borge wat die skoonheidskompetisie so goed ondersteun het en almal wat die aand se verrigtinge bygewoon het.