Moordenaars moet maar sit, sê appèlhof

Die appèlhof het onlangs bepaal dat twee gevonniste moordenaars wat appèl teen hul vonnis van altesaam 328 jaar tronkstraf aangeteken het, tog maar die vonnis moet uitdien.


Die appèlhof het onlangs bepaal dat twee gevonniste moordenaars wat appèl teen hul vonnis van altesaam 328 jaar tronkstraf aangeteken het, tog maar die vonnis moet uitdien.

Graig ‘Kimba’ Hendricks (28) en Zane ‘Zebo’ Booysen (30) is in September 2015 in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan verskeie oortredings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca), ’n dubbele moord, ses pogings tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Dit twee het met vuurwapens op 20 mense losgetrek waaronder lede van verskillende bendes. Dié voorval het gebeur toe lede besig was met vredesamesprekings in die bendegeteisterde Dura-woonstelle. Hendricks en Booysen het na bewering bande met die 28-bende.

Anver van der Westhuizen (34) is op die toneel dood en Lorenzo Bowers het later in die hospitaal aan sy skietwond beswyk.

Een van die oorlewendes wat in die aanval gewond is, Granville Martinus, is later vir ’n tweede keer aangeval. Volgens die polisiebeamptes het die huurmoorde­naar van Bellville-Suid se vuurwapen “gestoor” en nie afgevuur nie.

Martinus het oor dié saak getuig in die eerste suksesvolle vervolging volgens die Poca-wet asook die saak teen Malick Petersen, leiersfiguur van die Fancy Boys in Atlantis en sy 16 medepligtiges, wat altesaam tot 413 jaar tronkstraf gevonnis is.

AO Sabie Kruger, ondersoekbeampte in die saak teen Hendricks en Booysen, het eers net ’n moordklag teen hulle ondersoek. Die saak het egter ’n wending geneem met ’n opdrag van genl.maj. Jermey Veary, provinsiale speurhoof, aan AO Josef Phillips om die saak in ’n Poca-rigting te ondersoek. Phillips het met sy kennis van dié wet, Kruger bygestaan en saam het hulle voldoende bewyse ingesamel om ’n skuldigbevinding te kry.

Die saak het vyf maande geduur en adv. John Ryneveldt het die staat verteenwoordig. Die regter het ook die staatsgetuies se geloofwaardige getuienisse in ag geneem. Vier staatsgetuies het amnestie vir hul misdrywe ontvang.

Hendricks en Booysen is op agt van die 24 aanklagte teen hulle onskuldig bevind omdat die slagoffers nie kom getuig het nie.

Regter J.J Allie het die twee moordenaars geroskam omdat hulle ’n gemeenskap wat swaar trek onder werkloosheid en hoë misdaadsyfers gyselaar hou met hul bendebedrywighede.

You need to be Logged In to leave a comment.