Die toestand van die ou winkelsentrum in Atlantis het inwoners en sakemense onthuts gelaat.
Sakelui sê hulle is moedeloos vir die morsjorse wat dáár sake doen en nie skoonmaak nie.
Joe Jozephs sê dit is skandelik hoe die eens trotse winkelsentrum nou lyk en merk hy reeds ’n geruime tyd die haglike toestande van die sentrum op.
Met Weskus Nuus se besoek aan die sentrum het vullis kniehoogte gelê en niemand kon sê waar die gemors vandaan kom nie. Jozephs se voorts dat informele handelaars die gebied rondom hul stalletjies skoon hou en dit skyn dat winkeleienaars hul rommel dáár stort.
“Die owerhede gee duidelik nie ’n dooie duit om vir die plaaslike gemeenskap nie, met die gevolg dat rommelstorting deur die formele sektor aan die orde van die dag is. Oortreders moet swaar beboet word.”
’n Informele handelaar, wat nie genoem wil word nie, meen dis ’n skande dat kliënte deur die rommel moet loop en sê rondloperhonde kom krap in die vullis op soek na kos.
“Dit is sleg vir ons ondernemings, want kliënte loop eerder verby en gaan koop aan die anderkant van die sentrum,” het die man bygevoeg. Cynthia Clayton, raadslid van wyk 29 en subraadvoorsitter, sê sy is omgekrap oor eienaars se traagheid.
“Ek het die probleem aangespreek en die kwaaddoeners ’n ultimatum gestel dat die plek binne ’n paar dae skoon moet wees of hulle sal die gevolge moet dra.”
Clayton sê voorts, dit was ’n proses om die verantwoordelike persoon op te spoor omdat die sentrum gereeld van bestuurder wissel. Sy het ook gesê die opgradering van die sakekern is tans hoog op haar prioriteitslys en het inwoners gemaan om na vore te tree sou hulle weet wie verantwoordelik is vir die storting.
Clayton het Weskus Nuus kort voor druktyd ingelig die Stad het self skoon gemaak en hy gaan beslis die situasie monitor.