Subraad 1 se eerste raadsvergadering in Atlantis op Donderdag 16 Februarie, is summier kortgeknip.
Voorsitter, Cynthia Clayton, moes omtrent bontstaan toe opposisielede wou weet waar die terugvoering is omdat daar geen verslae ingedien is nie.
Lubaloalo Makeleni, ANC-wyksraadslid vir Du Noon, sê munisipale amptenare van die Stad Kaapstad voel vere vir die inwoners van Atlantis. Amptenare wou glo mondelings verslag doen en raadslede meen dis duidelik dat hulle die raad ondermyn en met disrespek optree.
“Die reëls is duidelik. Verslae moet 72 uur voor ’n raadsvergadering beskikbaar wees,” sê hy.
Fiona Abrahams, ’n ANC-raadslid, sê op haar beurt daar was geen agenda tydens die vergadering nie en kon hulle nie verstaan hoe die voorsitter die vergadering kon laat aangaan nie. Die ANC-raadslede het ’n mosie ingedien om die vergadering te verdaag.
Belangrike sake wat tans aandag geniet in die raadsaal en waaroor daar geen terugvoering is nie, is die opgradering van woonstelle, wat al reeds ’n geruime tyd onder die vergrootglas is.
Die afwesigheid van metropolisie-beamptes in Atlantis se bende-geteisterde gebiede en die nood vir verkeersligte, is ook voorbeelde van sake wat nie aandag kon geniet nie.
Clayton het tydens die eerste raadsvergadering op 19 Januarie reeds amptenare oor die kole gehaal oor hul traagheid, en het gesê sy gee hulle twee weke “om hul huis in orde te kry,” maar dit blyk die aanmaning het op dowe ore geval.
Ten spyte van Clayton en Wessie van der Westhuizen, subraad-bestuurder, se aanmanings dat amptenare nie dienslewering moet vertraag nie, steur die spul hul blykbaar min aan die leiers.
Clayton het in kommentaar aan Weskus Nuus gesê, verslae is slegs ’n administratiewe optrede.
“Net omdat daar nie verslae is nie, beteken nie daar is geen dienslewering nie. Ons is trots om te sê dat al die projekte wat in ons begroting goedgekeur is, almal in ’n implementeringsproses is,” het sy bygevoeg.