Die lewe is veels te kort om jouself nog besig te hou met dinge wat nie regtig saak in die lewe maak nie.
Dit is en was nog altyd een van my motto’s in die lewe: Waarom jou tyd mors op onbelangrike dinge soos iemand anders se doen en late of die rafel aan jou trui wat jy later kan afsny?
Ek is nou maar net een van daai mense wat nie juis omgee oor dinge soos byvoorbeeld ’n netjiese lessenaar of gepaste sokkies nie, want ek het veel belangriker dinge om aan aandag te gee. Buitendien ek glo daar is orde in chaos.
Gepraat van ’n deurmekaar lessenaar. Nou die ander dag het my kollega besluit om my lessenaar (goed bedoelend) reg te pak – en was dit nou vir jou ’n storie.
Eerstens het sy my heeltemal ontwrig, want glo dit of nie ek weet presies waar wat tussen wat, sy noem dit rommel, is. In ag genome dat ek ’n skeppende mens is en nie gestruktureerd funksioneer nie – die tipe go with the flow-mens.
Ek was skoon ongemaklik toe my lessenaar opgeruim is – ek het nie geweet waar om te begin vat of los nie. Dit was asof ek by iemand anders se lessenaar gesit het. En hoewel elke vakkie mooi gemerk en dokumente in orde gesit is, was dit vir my bietjie “deurmekaar” – heeltemal te netjies. So netjies dat ek nie wou werk nie, néé dat ek nie kan werk nie.
Dit het my laat wonder of daar nog mense daar buite is wat soos ek is en wragtig daar is. Ek lees onlangs ’n artikel oor intelligensie en blykbaar is intelligente en kreatiewe mense volgens wetenskaplikes nie gepla oor klein dingetjies wat nie saak maak nie. Nie dat ek myself intelligent noem nie. Volgens wetenskaplikes is intelligente en kreatiewe mense juis om hierdie rede baie meer produktief as die res van die mensdom. Hulle maak glo ook meer geld as die res van die mensdom – ek weet nou nie so mooi van die geldmaakstorie nie, maar ek dink ek is redelik produktief.
So, kollega dankie vir my mooi skoon lessenaar, maar ek kan nie wag tot dit weer deurmekaar is nie sodat ek kan werk nie. – Angelo Julies is ’n joernalis vir Boland Media (Media24).