Dis Dinsdagoggend voor vyf en ek het wèèr net vier ure geslaap.

Na twee inbrake vind ek myself oortuig dat ek een nag so diep sal slaap en nie die geskree van die dakplate wanneer hy oor die muur spring of die gekraak van die badkamervenster wat oop forseer word; die naggeluide van ’n dief, gaan hoor nie.

Wat gaan ek doen as ek hom sien? Het ek ’n wapen indien die burglar bars nie genoeg weerstand teen die desperate dief, op soek na enige iets om sy volgende fix te kry, gaan bied nie. Dit is mos net twee jaar gelede dat hulle Rubeena Booley se lyk in haar huis (nie ver van hier) gekry het . . .het sy dan nie ook inbrekers betrap nie? En is hulle nie nog op vrye voet nie?

Dis die gedagtes wat soos ’n warrelwind deur my kop maal.

Hulle sal nie vanaand kom nie, oortuig ek myself en gee my liggaam huiwerig toestemming om te ontspan…

Ek gaan deur my “aksieplan” voor ek oorgee aan die slaap. Maar ek weet dit kan nie normaal wees nie.

Die naweek staan ek enkeldiep in die sand langs ’n moordtoneel, meters van die speelpark, waar my susterskind so gereeld met haar skoolmaatjies gaan speel.

Soos dit maar in Atlantis is, trek moordtonele ’n groot skare – soos wanneer ’n gunsteling-fliek uiteindelik op die grootskerm te sien is. Almal wil weet, wie dit is, wat gebeur het, wanneer hy gevind is.

En dan die gedeelte wat my eintlik geskok het, “hoekom word ons nie toegelaat om hom te sien nie?”

Jong kinders, groot mense. Almal staan nader om beter te kan sien. Stadig, maar seker word die polisieband ook afgebreek, ons “moet” mos die lyk sien, “want ek het hom geken” sê die een vrou, asof dit haar logika moet verduidelik.

Elke keer wanneer nog ’n bendelid doodgeskiet word en sy lewelose lyk in die straat lê, laat ons ons kinders toe om front row seats te kry.

’n Paar maande van sielkundelesings kwalifiseer my skaars as ’n sielkundige, maar ek hoef nie ’n graad te hê om te weet, dit is nie normaal nie.

Een van die opvallende dinge die afgelope tyd, is die aantal jongmense wat hier rondstap en gesprekke met hulself voer. Hou net dop, stoksielalleen, loop en beduie hy sy imaginary friends. Dit, liewe vriende, is die uitwerking van tik op jou lieflingkind. En waar begin dit als, by iets so onskuldig soos jou kinders expose aan emosionele trauma wat hulle nie opgewasse genoeg is om te kan verstaan nie.

Dit is nie normaal nie.

You need to be Logged In to leave a comment.