Alle paaie het Saterdag na Mamre gelei, waar Hamlets en Mamre onderskeidelik teen Kuilsrivier en Darling te staan gekom het.
Hamlets speel in die Westelike Provinsie Super Liga B en Mamre in die Boland Swart-Wes Grootuitdaagreeks.
Hamlets, die geeltruie van Mamre, het die wedstryd voor ’n groot skare met 36-31 gewen.
Kuilsrivier het die wedstryd uitstekend begin en ’n onvervyfde drie in die agtste minuut behaal.
Hulle het beheer oor die wedstryd geneem, maar plaasvervanger Brynne Gerike (Robin Davids het in die 11de minuut ’n kniebesering opgedoen), het ’n drie behaal vir Hamlets en Keane Okkers het met die doelskop geslaag.
Okkers het ook kort daarna ’n strafdoel oorgeklits om Hamlets te laat voorloop 10-5 met 15 minute oor in die eerste helfte.
Die besoekers het nog twee drieë aangeteken en vier minute voor rustyd met 17-10 voorgeloop.
In die doodsnikke van die eerste helfte het Daylen Arends egter weer ’n drie gedruk vir die tuisspan. Okkers het dit oorgeskop en die rustydtelling was 17 elk.
Ná rustyd was daar ’n oplewing in die geeltruie se spel – Isaac Davids het Hamlets in die 10de minuut van die tweede helfte laat voorloop toe hy nog ’n drie aanteken.
Die spel het daarna van die een kant na die ander kant beweeg. Kuilsrivier het twee drieë (een doelskop was suksesvol) behaal, terwyl Byren Jubelin ook vyf punte vir Hamlets behaal het.
Die telling was gelykop met 31 elk ná 71 minute speeltyd.
Hamlets is in die 77ste minuut met die wendrie deur Adriaan Februarie beloon. Okkers het gefaal om hierdie skop te verdoel, maar het alle ander skoppe skitterend deur die pale gejaag.
- Hamlets geniet Saterdag ’n loslootjie en speel Saterdag 6 Mei tuis teen Collegians en 13 Mei reis hulle na Kraaifontein, waar hulle Hands and Hearts sal pak.Mamreis nog steeds aan die verloorkant. Saterdag het hulle weer eens ’n groot loesing van aartsvyande Darling op hul tuisveld ontvang. Die eindtelling was 40-10 nadat Darling teen draaityd reeds 28-3 voor was.
Darling het die derby totaal oorheers en Mamre was gelukkig dat die eindtelling nie baie hoër was nie.
Hierdie Saterdag reis Mamre na Abottsdale, nog ’n reus in die liga en op 6 Mei speel hulle teen nog ’n agterspeen, Vredenburg.
)
Atlantis het pasella punte gekry omdat Bishop Lavis versuim het om op te daag in hul amptelike Westelike Provinsie Noord-wedstryd.
Die span het hulle eerste twee wedstryde tuis verloor en geniet die bietjie geluk. Hulle volgende wedstryd is weg op 6 Mei teen Mitchells Plain.
)Young Hearts van Pella, wat in die Boland se SwartWeskus Liga speel, het Hopefield met 39-32 in hul liga wedstryd op Pella gewen. Die manne van Hopefield het die Pellanaars harde bene laat kou vir hul oorwinning. Die tuisspan se tweedes het ook met 15-5 gewen. Saterdag speel hulle teen Moorreesburg weg en speel weer tuis teen Langebaan op 6 Mei.