Nege mans is Saterdag 25 Mei by binnelandse sake in Atlantis in hegtenis geneem in verband met die vervalsing van dokumentasie, bedrog en korrupsie.
Agt Bangladesjiese mans en ’n binnelandse sake-amptenaar van Guguletu is deur die provinsiale polisie se handelsmisdaadeenheid aangekeer.
Volgens ’n betroubare bron word Joseph Labitsa, die binnelandse sake- amptenaar by die Nyanga-kantoor, reeds ’n geruime tyd deur lede van die departement se interne intelligensie dopgehou.
Die sindikaat is aangekeer nadat die polisie ’n wenk ontvang het oor vervalste paspoorte wat by die Atlantis-kantoor uitgereik word.
Die bron sê ’n lokval is by die Atlantis-kantoor vir Labitsa en sy makkers gestel.
Volgens ’n verklaring deur die provinsiale polisie sou Labitsa vervalste paspoorte aan die buitelanders verskaf teen ’n tarief.
Die mans het Vrydag 31 Mei in die Atlantis-hof verskyn.
Die staat het aangevoer dat die buitelanders moontlik ’n vlugrisiko kan inhou en vir dié rede moet borgtog teengestaan word.
Labitsa is intussen op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hy moet elke tweede dag by die Guguletu-polisiekantoor aanmeld as deel van sy borgtog-voorwaardes.
Die polisieverklaring meld ook dat die polisie onder meer op 16 selfone, R10 400 kontant en verskeie dokumente beslag gelê het.