Noue ontkoming ná kaping naby huis

’n Man van Saxonsea is kort voor Goeie Vrydag, ’n hanetree van sy huis, gekaap en byna vermoor.


n Man van Saxonsea is kort voor Goeie Vrydag, ’n hanetree van sy huis, gekaap en byna vermoor.

Die slagoffer, Eugene Westfall (44), vertel hy was Donderdag 30 Maart tussen 23:00 en 00:00 op pad huis toe, toe iemand net voor die T-aansluiting in Mag­net­sirkel, ’n baksteen teen die kant van sy motor gegooi het.

“Ek het gestop om te kyk waar die baksteen vandaan kom. Iemand het my van agter met ’n skerp voorwerp in die rug gesteek. Ek het net vaag­weg gehoor iemand sê, ‘ek gaan die jong nou vrek steek’.”

Westfall vertel verder dat die mans hom in die motor ge­dwing het en met hom op die passasier­sitplek weggery het.

“Die volgende oomblik het ’n tweede kaper my van agter in die maag gesteek. Hulle het ge­dink ek is dood en het my uit die motor gesleep en in die reën in die bosse gelos.

“Ek kan nie onthou wat volgende gebeur het nie. Ek moes my bewussyn verloor het en het eers ná ’n rukkie wakker geword, maar kon nie my bene beweeg nie,” vertel hy verder.

Westfall sê hy het eers seker gemaak die kapers is weg voor­dat hy homself tot by die motor gesleep het.

Die kwaaddoeners kon glo nie die motor aan die gang kry nie en “het maar gevat wat hulle kon”.

“Ek het nie ’n idee gehad waar ek was nie, want dit was stikdon­ker. In die verte kon ek ligte sien verbybeweeg. Ek het in die rigting van die ligte ge­kruip om hulp te kry.”

’n Motoris het uiteindelik by hom gestop, waarna die polisie ontbied is. Volgens die dokters, is hy nou aan sy regterkant verlam nadat die kapers hom in sy rug gesteek het. Westfall sê hy het geweldig baie pyn en het geen gevoel aan sy regterkant nie. Hy is na ’n rehabilitasie­sen­trum verwys.

Volgens kapt. Cyril Dicks, polisiewoordvoerder by die Atlantis-polisiekantoor, word ’n klag van motorkaping onder­soek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.