Die ATKV-tak in Atlantis vereer elke jaar mense uit die gemeenskap as fakkeldraers.
Volgens die organiseerders is die fakkeldraers pioniers. Hulle is leiers, elkeen dra hulle eie lig na die donkerste dele van die gemeenskap.
“Ons hoop om hiermee ook ’n jonger generasie aan te moedig om diensbaar te wees. Dit is ’n dankie dié, maar dit is ook ’n pleidooi, in die taal van Atlantis: Pass ‘ie torch aan,” verduidelik Annie Petersen, voorsitter van die plaaslike tak. Die eerste projek is verlede jaar op Vrouedag van stapel gestuur en ’n boek het hieruit ontstaan, Vroue van Atlantis.
Die boek is 30 November by die organisasie se jaarlikse geselligheid bekendgestel. Vanjaar is daar weer 11 pioniers gekies om die fakkel te dra en daar is ook mans ingesluit.
Die nuwe fakkeldraers is: Sylvia Brand, Gaironeesha Davids, Martin de Villiers (beter bekend as Oom Diffie), Cyril Dicks, Susan Fortuin, Joan Humphries, Patrick Pickering, Katie Roman, ds. Richard Stalmeester, Frank Stockenstroom en David Willemse.
Die 11 pioniers is vereer vir die werk wat hulle in die gemeenskap doen, wat insluit werk met alkohol- en dwelmverslaafdes, seniors en vir die ekstra myl wat hulle loop om andere te hulp te staan.
. Die boek, Vroue van Atlantis is beskikbaar deur Lapa-uitgewers: 012 401 0700 of besoek www.lapa.co.za.