Dienslewering sal nou vinniger na die gemeenskap gebring word.
Só meen die wyksraadslid en subraad 1-voorsitter, Cynthia Clayton, nadat twee plaaslike proporsionele raadslede na die gebied ontplooi is.
Joseph Witbooi, wat voorheen in wyk 105 ontplooi is, is nou aangestel in wyk 32 waar hy met die huidige wyksraadslid, Barbara Rass, sal werk.
Allister Lightburn, wat Maandag 8 Julie as nuwe DA-proporsionele raadslid ingesweer is, sal in wyk 29 met Clayton diens doen.
Beide Witbooi en Lightburn is ook inwoners van die dorp en sê hul grootste doelwit is om die twee wyksraadslede se hand te sterk en seker te maak die inwoners van Atlantis, Mamre, Pella, Witsand en omliggende gebiede “kry die dienslewering wat hulle verdien”.
Clayton het die twee verwelkom en sê die twee is jong manne wat voor haar grootgeword het en sy is baie opgewonde om met hulle saam te werk. Lightburn, wat sy buiging as raadslid maak, sê sy fokus is vir eers om die gemeenskap te dien. “Saam sal ons ’n verskil kan maak en eenheid onder die raadslede sal die sleutel tot sukses wees,” het hy bygevoeg.
Rass sê sy is ook baie opgewonde om saam met Witbooi te werk. “Saam sal ons ’n wenspan vorm”.