Dis koud en begunstigdes het die kortste end getrek.

Begunstigdes van sosiale toelae van die Suid-Afrikaan­se agentskap vir maatskap­like sekerheid (Sassa) het vandees­maand behoorlik gal gebraak nadat die nuwe Sassa-kaarte net “onvoldoen­de fondse” by Junie se uitbetaling gewys het.

Die agentskap wat maatskap­like toelae uitbetaal, het onlangs ’n landwye veldtog van stapel gestuur om die nuwe kaarte bekend te stel.

Inwoners het reeds sedert Saterdag (30 Junie) rond geval om uit te vind waar hul geld­jies is, maar kon nêrens regte antwoorde kry nie.

Volgens Catherine Pipers (63) van Sherwood Park het sy steeds haar ou Easy Pay-kaart, want sy was gesê die geld sal in dié rekening wees. “Ek is Saterdag in die reën na Easy Pay om my geld te trek, maar dit het net gewys die geld is in die stelsel, maar nog nie be­skik­baar nie. Ek is die Sondag weer vroeg uit die vere net om te hoor die geld is nou glad nie meer in die stelsel nie en net weg,” sêsy teleurgesteld.

Levona Africa (66) sê egter sy het nog nooit enige lenings op haar toelae gemaak nie en werk met die oorspronklike Sassa-kaart en het nog nooit enige probleem gehad nie.

“Ek het my nuwe kaart gaan haal, maar nie een van die twee kaarte werk nie. Ampte­nare het aan ons gesê as die nuwe een nie werk nie sal die oue beslis nog werk, maar hier gaan niks aan nie.

“Ek moes verleë by Shoprite se kassier omdraai, want daar was insufficient funds,” vertel Africa.

Berenaice Botha (53) sê sy is woedend omdat sy ook heel naweek in die reën moes rond­loop om te hoor waar is haar toelaag.

“Ek het maar by Finbond ’n rekening oopgemaak omdat amptenare gesê het enige bank is in die haak. Daar is eenvou­dig niks geld nie en niemand kan sê waar ons geld is nie.”

Almal sukkel egter nie met hul uitbetalings nie, vertel Aggy van Schoor.

Dié pensioentrekker het haar geld sonder enige probleem met die nuwe kaart getrek. Van Schoor sê sy het simpatie vir diegene wat probleme met hul uitbetalings gehad het.

Volgens die Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Albert Fritz, is hy gegrief, verbitterd en hartseer vir dit wat die begunstigdes getref het en dít in die middel van die winter.

“Mense moet oorleef met die toelae en die koue, nat omstan­dighede maak dit glad nie maklik vir die mense nie,” meen Fritz.

Hy het gemaan dat Sassa sy huis in orde moet kry. Volgens hom moet die nasionale minis­ter van maatskaplike dienste, Susan Shabangu, verantwoorde­lik­heid vir dié debakel aanvaar. Fritz sê hy het reeds vier briewe aan die minister gerig, maar het geen terugvoer gekry nie.

Sassa se uitvoerende hoof, Abraham Mahlangu, het erken daar was probleme met uitbetalings in Junie.

Hy skryf die probleme aan “tegniese foute” toe omdat geld wel in die nuwe kaarte betaal was.

Volgens Mahlangu het Sassa en die poskantoor onverpoosd aan die probleme gewerk om die uitbetalings te verseker.

Hy het begunstigdes gemaan om nie vroegoggend in lang rye te gaan staan nie aangesien die geld nie binne die eerste drie dae van die betaaldag beskikbaar sal wees nie.

Slegs 700 000 van die 12 miljoen Sassa-begunstigdes het die nuwe kaarte in Junie gebruik.

“Kontantbetaling moet teen die einde van September uitgefaseer word,” sê Mahlangu.

Alle begunstigdes moet teen einde Augustus nuwe Sassa-kaarte hê.

Daar sal met die nuwe Sassa-kaart geen aftrekkings vir lugtyd, lenings of vooruitbetaalde elektrisiteit gedoen kan word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.