Groot was die skok vir inwoners van Babblers Place toe daar skielik ’n onuitstaanbare stank vanuit hul splinternuwe sitbanke kom.
Jolene Saayman (41) het die nuwe sitkamerstel Desember-maand by ’n meubelwinkel in die inkopiesentrum vir R4 800 gekoop. “Ons was so opge-maak met die nuwe furniture, min wetend van die gemors wat op ons wag,” verduidelik Saayman.
Die gesin het Desember vir ’n week vakansie gaan hou. Met hul terugkeer het hulle besef iets ruik vrot.
Haar ma, Frances Brown (68), het die banke gereeld afgewas en geskrop, maar die reuk het nie weggegaan nie.
Dinsdag was die laaste strooi en Saayman het besluit om die banke oop te sny in Weskus Nuus se teenwoordig-heid. Die stank van iets vrot het al erger geraak hoe meer rommel uit die bank kom.
Die bank was propvol gestop met leë vullis- en sigarette-pakkies. Tussen al die rommel het ook ’n sakkie wat lyk na kos of vleis wat al gevrot het gekom. Die twee het die volgende oggend die eienaar van die winkel gaan konfronteer. Gemoedere het hoog geloop en die polisie is ontbied. Die eienaar van die winkel, net bekend as Henry, het aan Weskus Nuus gesê hy koop sy voorraad van ’n ander winkel, maar wou nie kontakbesonder-hede bekend maak nie. Hy het ingestem om die bank te vervang.