“Dwelms!”

“Shhhhhh! Moenie dít so hard sê nie . . .”

In my lewe het ek geleer daar is sekere onderwerpe waaroor mense vrylik kan gesels. Dinge soos die weer, sport en wat vir aandete is, maar daar is ook onderwerpe wat heeltemal taboe is. Een van hierdie is dwelmmiddels en meer spesifiek verslawing.

Ek was dus geensins verras toe ek leer dat ’n groot deel van verslawing leuens, geheime en manipulasie behels nie.

Leuens kan so diepgewortel in verslawing wees dat dit meer as net die persoon wat verslaaf is raak. Selfs meer as dit – die verslaafde persoon kan onwetend leuens aan homself vertel.

Leuens soos “my probleem is nie so erg nie” of “ek drink net alkohol” of selfs “dis wettig en ek gebruik darem nie onwettige middels nie”.

Hierdie leuens is ’n vorm van ontkenning en kan die persoon in verslawing vasgevang hou. Soms glo gesinslede ook hierdie leuens omdat dit moeilik en seer is om die waarheid in die oë te staar.

Families sal ook leuens vertel en geheime hou om die verslaafde persoon te beskerm. Wat kan ’n gesin doen om ’n verslaafde persoon te help? Dit is juis die teenoorgestelde van leuens en geheime wat ’n verslaafde persoon kan help om te herstel.

Dit kan vreemd en verkeerd voel om openlik oor verslawing te praat, maar geheime en leuens hou ’n persoon siek. Dit is soms nodig dat ’n verslaafde persoon die gevolge van hul dade ervaar sodat hulle die erns van verslawing kan verstaan.

Onthou dus dat stilte jou siek hou. Ek het geleer dat dit tyd is om te praat. Deur die stilte te verbreek en die waarheid in die oë te staar, kan families die greep wat verslawing op hul lewe het verslap. – Janet Smit, maatskaplike werker Cape Town Drug Counselling Centre

You need to be Logged In to leave a comment.