Dit het ses jaar se harde werk gekos om Clint Smith se moordenaars agter tralies te sit.
Die ondersoekbeampte, AO Josef Phillips, Flippie, soos hy beter bekend is, het verlede week in die Wes-Kaapse hooggeregshof in die saak teen Gerrit Franse, Michael Adams, Aldrick Adams en Chestwell Essop getuig.
Die polisiebeampte is drie keer deur die staat en een keer deur die regter na die getuiebank geroep.
Phillips het getuig dat hy in Augustus 2014 as ondersoekbeampte en lid van die Operation Combat-span eers gevra het dat die saak teen Sulaiman Halliem, alias Kamantjie, en Eldrick Adams voorlopig teruggetrek moet word.
Volgens Phillips se getuienis het hy dit gedoen nadat Neels Cloete, wat soos Halliem ’n artikel 204-getuie geword het, onder strategiese druk gevou en Franse en nog ander met die moord verbind het.
Phillips het aan die hof verduidelik dat hy eers met die Smith-familie vergader het om sy plan te verduidelik aangesien dit ’n uitgerekte proses sou wees.
Die speurder het die hof geboei met sy getuienis en het verduidelik hoe hy nog getuies moes kry om Cloete se verklaring te staaf.
Die hof het ook gehoor die vier beskuldigdes se selfoonrekordbewegings op die dag van die moord en ontvoering is ontleed en positief met die ontvoering- en moordtoneel verbind.
Die deskundiges wat die selfoonrekords ontleed het, het Phillips se getuienis bevestig en in die fynste besonderhede aan die hof verduidelik hoe drie van die beskuldigdes se selfone uit Elsiesrivier na Atlantis beweeg het.
Die rekord het die drie later op die toneel geplaas. Volgens Phillips se getuienis, is al vier beskuldigdes in 2018 danksy dié bewyse formeel aangekla.
Phillips het die hof met sy getuienis geskok nadat hy op ’n vraag van die verdediging gesê hy kon bevestig dat een van die selfoonnommers wel aan Franse behoort het, gesien Franse een van sy betroubare bronne was.
Die speurder het verduidelik Franse het gereeld bende-verwante inligting aan hom verskaf om sake in Atlantis op te los.
Regter Robert Henney het Phillips in sy uitspraak geprys vir sy deeglike ondersoekwerk wat tot die suksesvolle vervolging gelei het.
Phillips was ook die ondersoekbeampte in die Malick Petersen-saak.
Petersen, ’n bendeleier, en van sy makkers dien tans meer as 900 jaar gevangenisstraf uit in die eerste suksesvolle vervolging van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (POCA) in Suid-Afrika.