Luister bietjie na alledaagse kommentaar oor dwelmgebruikers.
Dalk het jy al die volgende gehoor:
“Al wat hy kort is ’n goeie pak slae, dan sal hy regkom” of “smyt almal wat dagga rook in die tronk. Hul is in elk geval net skobbejakke en moeilikheidmakers” en natuurlik “dit is oor al die tikkoppe dat daar so baie geweld in die gemeenskappe en huishoudings is.”
’n Mens is geneig om middelmisbruik direk aan geweld te koppel. Die pa was dalk ’n alkoholis en daarom het hy moontlik sy vrou en kinders só verniel.
In destydse denkpatrone is middelmisbruik gekoppel aan ’n swak wilskrag, verkeerde keuses en ’n korrupte sin van waardes. Verslawing was en word soms steeds gesien as ’n keuse.
Verslaafdes word as mense met swak morele waardes beskou. Dit blyk asof die samelewing ’n vrees vir verslaafdes ontwikkel het.
Hul word as gevaarlik beskou. Die gemeenskap tree dan verdedigend teenoor hulle op. Hul sal byvoorbeeld hulp aan iemand weier, omdat hulle dwelmmiddels misbruik. Soms reageer die gemeenskap met geweld teenoor verslaafdes.
Dalk is daar ’n klein stemmetjie in jou kop wat dink dat dit reg so is en dat die verslaafdes maar net kry wat hulle verdien. ’n Tweede stemmetjie dat geweld nog meer geweld uitlok, fluister in jou ander oor.
As die gemeenskap gewelddadig en negatief teenoor verslaafdes optree, word dit verwag dat verslaafdes met geweld teenoor die gemeenskap sal reageer.
Verslawing word as meer as net ’n verkeerde keuse beskou. Verslawing word as ’n siekte beskou. Dis ’n siekte soos diabetes of kanker.
Leuens, manipulasie, diefstal en soms geweld is simptome van die siekte wat ons verslawing noem.
Dit blyk sinneloos te wees om die persoon te straf, omdat hy of sy simptome van ’n siekte toon, maar die siekte self word nie behandel nie.
Iemand kry dalk tronkstraf omdat hy gesteel het om dwelms te bekom. Binne die tronk kry hy nie behandeling vir sy verslawing nie. Hy vind steeds ’n manier om dwelms te bekom, al is hy in die tronk. Sy verslawing en gedrag vererger dalk selfs.
Tronkstraf het dus nie die persoon genees van sy gedrag nie. Dit het egter net die persoon se siekte vererger en dalk selfs sy gedrag. In hierdie stadium mag jy dalk met jou hande in jou hare sit. Hoe moet jy dan ’n verslaafde hanteer as straf nie werk nie? Ondersteun eerder die persoon as om te straf.
Dit beteken nie dat jy die verslaafde mens net gaan toelaat om te maak soos hy wil nie. Dit sal nodig wees dat jy gesonde grense daar stel. Hierdie grense is om jouself te beskerm.
Dit dui ook aan die persoon watter gedrag aanvaarbaar en watter gedrag onaanvaarbaar is. Natuurlik moet daar gevolge vir onaanvaarbare gedrag wees.
Dit is egter nodig om te onthou dat die gedrag slegs ’n simptoom van ’n siekte is. Hierdie siekte kan en moet behandel word. Dit is dus jou verantwoordelikheid as gemeenskapslid, vriend, familielid en geliefde om anders na die verslaafde te kyk. Hierdie is ’n individu wat uit meer as net sy of haar gedrag bestaan. Hierdie persoon ly aan ’n siekte en verdien ’n regverdige kans tot behandeling. Ek daag dus elke persoon uit om hul vooropgestelde idees te laat staan en eerder die mens agter die gedrag raak te sien en te ondersteun.
Vir meer inligting oor hoe om ’n verslaafde mens eerder te ondersteun as om te straf, kontak gerus ons kantoor in Observatory by 021 447 8026.
– Janet Smit Drug Centre