Parkview Primêre skool is Maandag 8 April in rou gedompel met die skielike heengaan van een van hul geliefde onderwysers, Alexander Christian Solomons (51).
Solomons, beter bekend as Sollie, was vir meer as ’n dekade lank onderwyser by dié skool. Volgens sy kollegas het hy in sy slaap gesterf.
By ’n gedenkdiens by die skool Woensdag 10 April was onderwysers en leerders verslae en het in ongeloof na sy foto gestaar terwyl huldeblyke van oral ingestroom het.
Die graad 7-leerders, vir wie hy sosiale wetenskap, natuurwetenskap, lewensoriëntering en Engels gegee het, het ’n lied “Jy is spesiaal” gesing. Hy sal altyd onthou word vir sy glimlag en sy passie om sy leerders te laat presteer.