Die huidige bestuur van Mamre Communal Property Association (MCPA) is wettig en kan met sy werksaamhede voortgaan.
Só sê die voorsitter, Wilfred Solomons-Johannes, in reaksie op Weskus Nuus se vrae nadat inwoners by ’n gemeenskapsvergadering besluit het dié vereniging is “onwettig en moet gaan”.
Solomons-Johannes, het in sy skrywe gesê: “Die Mamre-inwonersvereniging moet hom bepaal by sy mandaat en nie om in te meng met sake wat niks met hom te doen het en waarvan hy geen kennis, nog minder deskundigheid het nie.” Hy sê verder: “Die vereniging tree slegs vir sy eie persoonlike belange en gewin op.”
Volgens Solomons-Johannes het hy op 24 Augustus met amptenare van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming vergader en was meegedeel dat die huidige MCPA-bestuur wettig is. Hy meen, sou die vereniging voortgaan met sy optrede om die bestaande wetgewende struktuur om ver te werp, sal hulle deur die statutêre bepalings uitgedaag word en die gevolge van die wet dra.
Volgens Lindy Kraak de Vos, sekretaris van die Mamre-inwonersvereniging, versprei hulle die waarheid omdat hulle ’n mandaat van die inwoners het. “Ons fokus op die vooruitgang van Mamre en sê dat die MCPA nie die inwoners verteenwoordig nie, maar slegs custodians van die dorp se meentgrond is.”