’n Plaaslike onderwyser het hom aan die polisie oorgegee nadat Instagram-boodskappe tussen hom en ’n 14-jarige aan die lig gekom het.
Na bewering het die onderwyser (34) en die tiener op sosiale media geklets. ’n Betroubare bron na aan die ondersoek sê die onderwyser het aan die minderjarige gevra vir foto’s van haarself en elke keer gesê “I want to see more”, waarna die leerder meer ontbloot het.
Die geliefde onderwyser het hom Maandag (22 November) aan die Atlantis-polisie in die teenwoordigheid van sy regsverteenwoordiger oorgegee.
Volgens Kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is ’n klagte van seksuele gereedmaking Vrydag (19 November) by die Atlantis-polisiekantoor aangemeld.
Die saak is sedertdien aan die Milnerton FCS-tak vir verdere ondersoek oorhandig.
Die verdagte het Dinsdag (23 November) in die hof op die aanklag verskyn en is op R1 500 borgtog vrygelaat. Hy moet op 25 Februarie aanstaande jaar weer in die hof verskyn.
Die Wes-Kaapse Onderwysersdepartment (WKOD) het by navraag bevestig die onderwyser is nie tans by die skool nie.
Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, het gesê hoewel die departement nie deur die polisie van die voorval verwittig is nie, het hulle verslae oor die inhegtenisneming ontvang. “Die gronde vir skorsing sal op die uitslag van ’n ondersoek gebaseer word. Die WKOD sal voortgaan met die ondersoek,” het Hammond gesê.
Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation, wat slagoffers van seksuele misdrywe ondersteun, sal mense nooit besef dat hier ’n pandemie in ’n pandemie is nie.
“Wie kan vertrou word as leiers wat veronderstel is om na ons kinders om te sien, nie vertrou kan word het?” Passenz gevra.
Die onderwyser se identiteit is bekend aan WeskusNuus, maar die beskuldigde het nog nie in die hof ’n pleit ingedien nie.

