‘Ons gaan oorlog teen bendes wen!’

“Hulle (bendes) het oorlog verklaar en die polisie gaan nie stil sit en kyk hoe die minderheid, ons gemeenskappe vernietig nie.”.


“Hulle (bendes) het oorlog verklaar en die polisie gaan nie stil sit en kyk hoe die minderheid, ons gemeenskappe vernietig nie.”

Só het nasionale adjunkminister van polisie, Bongani Mkongi, Vrydag aan sowat 200 polisielede van regoor die Kaap, by die Atlantis-polisiestasie gesê.

Die polisielede, wat die taktiese reaksie-, honde-, en perde-eenheid sowel as munisipale wetstoepassers en verkeersbeamptes insluit, is ontbied om ’n reeks klopjagte en padblokkades in Atlantis uit te voer.

Tydens sy sessie met die polisielede, het Mkongi sterk uitgevaar teen lede wat “’n bed deel met die vyand” en sê samesprekings met die departement van justisie sal volg om korrupte lede vir “langer tronk toe te stuur”.

“Te veel lede dans na bendebase se pype. Besluit of julle vorentoe wil stap met die polisie of agteruit met bendes, want jul uurglas is besig om leeg te loop,” het Mkongi bygevoeg.

Die adjunkminister het bendebase van Atlantis en elders in die Wes-Kaap, die versekering gegee dat die polisie die oorlog gaan wen. Die besoek aan Atlantis, volg na ’n vlaag moorde met vyf mans, wat volgens gemeenskapslede nie betrokke was by enige bende-bedrywighede nie, binne ’n week doodgeskiet is.

Mkongi, vergesel van waarnemende provinsiale hoof lt.genl. Khombinkosi Jula, en verskeie ander senior offisiere, het die polisielede verseker dat die bestuur ook na húl behoeftes sal omsien. “Om agt jaar te wag om bevorder te word, maak lede swak.”

Die adjunkminister het die vorige dag by ’n mediakonferensie ook aangevoer, ’n strategiese plan, om bendegeweld op die Kaapse vlakte aan te spreek, is deur die kabinet goedgekeur en sluit in die herinstel van die provinsiale bende-eenheid. Volgens kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, is die polisie reeds sedert Dinsdag besig met optredes. Volgens sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, is 535 mense inhegtenis geneem tydens operasies in die Milnerton-kluster, wat onder meer bestuur onder die invloed en onwettige besit van ’n vuurwapen insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.