Patrick Kadalie van die oorsigkomitee gee terugvoering by die vergadering.Foto: Murphy Roberts


Gemoedere het opgevlam by die bekendstellings van die gemeen­skaps­verteenwoordigers vir Atlantis se spesiale ekonomiese sone (SES).

Inwoners was onthuts gelaat by die bekendmaking Donderdag 7 Februarie by die Robinvale-gemeenskapsaal.

Sommige was ontevrede met die manier wat die aanstellingsproses plaasgevind het.

Drie poste op die komitee – een vir jeug en twee vir die onderrig­sektor – is steeds vakant. Volgens Patrick Kadalie van die oorsigkomitee het die benoemde organisasies/persone nie aan al die nodige vereistes voldoen nie.

Organisasies moes kon bewys dat hulle aktief in die gemeenskap is en in baie gevalle kon dit nie bewys word nie.

“Die oorsigkomitee is gestig om ’n wakende oog oor die proses te hou. Dit is egter duidelik die komitee het gefaal,” het inwoners by die vergadering gesê.

Komiteelede se politieke en persoonlike agendas is ook by die vergadering bevraagteken.

“Die verkiesing van die lede moet ongeldig verklaar word omdat daar te veel omstredenheid in die proses was,” het Allen Beukes gesê.

Prof. Brian Williams, fasiliteerder van die proses, het aan die verga­dering verduidelik sodra die oorsig­komitee se verslag bekend gestel word, sal klagtes amptelik ingedien kan word.

Volgens Kadalie sal die drie vakante posisies so gou as moontlik gevul word. Verkiesings vir die ver­skillende sektore is reeds tussen Donderdag 31 Januarie en 2 Febru­arie gehou om die agt sektore te verteenwoordig.

Vroue en mense met gestremdhede sal deur Enid Muzeli verteenwoordig word, onderwys is steeds vakant, tradisionele raad- en kultuurgroepe deur Lydia Botha, sake deur Ebrahim Khan, Michael Marote en Thato Patric Hlwili, Steven Alberts en Luvuyo Matshisi sal geloofsge­gronde organisasies behartig, jeug is vakant, georganiseerde arbeid word verteenwoordig deur Malvern de Bruyn en Andre Adams en burgerlike organisasies deur Thobile Maseti en Mishka Ganief.

Die komitee sal as die Atlantis se spesiale ekonomiese sone se gemeenskapsbelangegroepnetwerk (ASES-GBN) bekend staan.

Die ASES-GBN word gestig om te verseker dat inwoners van Atlantis en omliggende gebiede ’n rol speel in die Atlantis SES en ook dat die gemeenskap se stem gehoor word, soos belowe deur president Ramaphosa by die amptelike bekendstelling 6 Desember.

You need to be Logged In to leave a comment.