Ontmoet Atlantis se jongste silwerskermsensasie

Die negejarige Joel Brown het heel toevallig betrokke geraak in die vermaaklikheidsindustrie.


Die negejarige Joel Brown het heel toevallig betrokke geraak in die vermaaklikheidsindustrie.

Ma, Christelle Brown, het sy sussie, Joy, vier jaar gelede by ’n agentskap ingeskryf, hy was saam en sy het besluit om hom ook maar in te skryf.

“Dis eintlik snaaks want nou kry hy al die werk,” vertel Christelle.

Brown was reeds in verskeie advertensie-veldtogte te sien vir internasionale maatskappye soos H&M, Next, Woolworths, Volkswagen en verskeie.

Brown is ook nou te sien in die nuwe fliek Bypass, ’n Suid-Afrikaanse mediese-riller wat op 11 Mei sy premiere het.

Bypass is die storie van ’n hart-chirurg, dr. Lisa Cooper (gespeel deur Natalie Becker), wat elke dag lewens red, maar hulpeloos moet toekyk hoe haar eie seun, Sam (Joel se karakter), agteruit gaan omdat hy ’n leweroorplanting nodig het. Slegs 2% van die land se bevolking is op die orgaanskenkerslys en dr. Cooper moet moeilike besluite neem om haar seun se lewe te red.

Die fliek is in ’n verlate hospitaal in Woodstock geskiet en Brown, wat geen formele akteursondervinding het nie, moes drie keer per week aan die film werk en het soms tot 02:00 in die oggend geskiet en het sommige dae reeds 05:00 begin.

Brown, ’n gr. 3-leerder by Laerskool van Riebeeckstrand in Melkbosstrand, moes skriftelike toestemming van die onderwysdepartement kry om aan die fliek te werk.

Christelle sê die verfilming van die fliek het geen impak op haar seun se skoolwerk gehad nie, omdat hy ekstra ingesit het om in te haal.

Brown se ouers sê hulle oefen glad nie druk uit op hul seun om akteur te word nie, maar ondersteun hom in sy besluite.

“Die direkteur en onsself was verbaas om te sien hoe goed Joel sy lyne onthou. Hy kry vir seker sy dramavernuf van sy ouma Dollie!”

Joel en sy suster film ook nou al reeds hul eie flieks met Christelle se foon, so wie weet, miskien sien ons nog eendag vir Brown in die direkteurstoel.

  • Bypass is by die Ster-Kinekor-teaters by die volgende sentrums te sien: Cavendish Square, Eikestad Mall, Parow en Tygervallei.

You need to be Logged In to leave a comment.