Ontwrigte gesinne sukkel sonder water, toilette

Inwoners van Pella, wat in Februarie verlede jaar onder dwang van hul grond deur wetstoepassers van die Stad Kaapstad verwyder is, sê die kerk op wie se grond hulle nou woon, gee nie vir hulle welstand om nie.


Inwoners van Pella, wat in Februarie verlede jaar onder dwang van hul grond deur wetstoepassers van die Stad Kaapstad verwyder is, sê die kerk op wie se grond hulle nou woon, gee nie vir hulle welstand om nie.

Die groep wat destyds ná die uitsetting toestemming van die Morawiese kerk gekry het om op die kerk se grond te “plak”, sê hulle bly in haglike toestande sonder basiese dienste en moet water gaan “steel” om aan die lewe te bly.

Tamlyn Geduld (22) en haar twee maande oue baba, bly al vir meer as ’n jaar in hierdie slegte omstandighede en Geduld vertel dit is regtig moeilik om ’n bestaan te voer, want “die mense” weier om haar met water te help. Sy sê sy het nooit baie water nie en as sy 5 F water op ’n slag by haar het, laat dit haar soos ’n miljoenêr voel. Volgens Geduld moet sy ook elke dag hout gaan soek om kos en water te kook.

Rodger Adonis (32) en sy lewensmaat, Natasha van der Westhuizen (32) woon ook met hul kleuter (2) in ’n klein opslaanhuisie. Die egpaar sê hulle is al moeg van swaarkry en die leë beloftes wat deurlo­pend gemaak word. “Ek wil nie eers aan die winter dink nie, want ons gaan sukkel in die koue maande,” het ’n bekommerd Adonis gesê. Petronella Swiers (60) wil baie graag haar eie huis hê, of ten minste skoon water en ’n toilet.

Die plakkers het geen toiletgeriewe nie en moet in die oop veld – of agter ’n bossie as hulle een kan vind – urineer en ontlas. Swiers sê sy is ook skaam omdat die kinders vuil skool toe moet gaan. Sy vertel hart­seer dat hulle slegs een keer ’n week kan was en dít boonop met “gesteelde” water.

Die kinders se skoolklere moet in dieselfde water gewas word. “Dit neem die kinders se menswaardigheid weg,” reken sy. “As ons nie water kan ‘steel’ nie moet ons baie ver loop daarvoor en dit maak die kinders moedeloos.”

Volgens Beaulah Vister, sekretaris van die groep se gemeenskapskomitee, probeer die mense nou al langer as ’n jaar om hulp te kry. Vister vertel die kerk en die raadslid stuur hulle van bakboord na stuurboord vir hulp. “Basiese dienste is ons reg en die kerk ontneem ons hiervan,” aldus Vister. Volgens wyksraadslid Cynthia Clayton is hul hande afgekap, want die grond behoort aan die Morawiese kerk en is dus privaat eiendom. Volgens Clayton kan die Stad net help as hy toestemming van die kerk kry. Eerw. Joy-Faith Kronnenburg het Weskus Nuus na ’n mnr. Stadler, die kerk se eiendombestuurder verwys. Ná talle oproepe en e-posse het Stadler teen druktyd nog nie kommentaar gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.