Oom Diffie het luisteraars aan die gons met sy skerp sin vir humor en tong in die kies kommentaar. Foto: Joline van der Merwe


“Oom Diffie word nooit mif ’ie!”

Die bekende woorde van Radio Atlantis se splinternuwe sensasie laat jonk en oud weekliks inskakel tussen 10:00 en 11:30 op die 107.9fm-frekwensie vir die program, Grys en Wys.

Martin de Villiers (61) is ’n bekende in Atlantis, as pastoor en oud-busdrywer, maar het eers sedert Mei vanjaar die uitsaaiwese aangedurf.

Oom Diffie en sy vrou, Delores (met ’n “e”), is reeds 36 jaar getroud en woon die afgelope 35 jaar in Atlantis.

Hy is trots op die feit dat hy nog nooit gerook en gedrink het nie.

Outydse waardes en ’n sin van omgee vir jou medemens straal uit die spontane omroeper.

“Die goeie ou waardes is wat ek aan my kinders oorgedra het en wat hulle vandag aan hul kinders leer.”

Met sy groot liefde vir sport, veral sokker, deel oom Diffie sy kinder-herinneringe van hoe hy as st. 5-seun ’n veldjie naby sy huis skoongemaak en bome se takke afgebreek het om sokkerpale te maak. Hy het op dié jong ouderdom al sy eie sokkerklub gestig.

Hy het ook in Oktober drie medaljes verower by die nasionale Golden Games in Polokwane vir die 100 m-naellope, aflos en sokker.

Oom Diffie is onlangs ook vir die tweede termyn verkies tot voorsitter van die Atlantis Co-ordinating Council for the Aged (ACA), ’n sosiale klub vir seniors in Atlantis, Mamre en Pella.

Dis deur hierdie posisie dat hy deur Rachel Watson, Radio Atlantis-bestuurder, genader is om die program aan te bied.

“Dit het ’n bietjie tyd geneem om gewoond te raak aan al die knoppies en goed, maar die personeel het my baie gehelp.”

’n Lewensles waarop oom Diffie sy lewe bou, is: “Ek gaan maar net een maal deur die lewe; enige goeie daad/welwillendheid wat ek aan my naaste kan betoon, laat ek dit nou doen, want ek sal nie weer hierlangs verbygaan nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.