Drie inbrekers het Woensdagaand, te midde van die ergste storm wat die Kaap in 30 jaar ervaar het, kans gesien om ’n winkel te beroof.
Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Cyril Dicks, is sigarette, lugtydbewyse en kontant van duisende rande uit ’n winkel in Wesfleursirkel gesteel.
Die polisie se misdaadvoorkomingseenheid het niksvermoedend Donderdagoggend naby die inkopiesentrum gepatrolleer toe een van die verdagtes skielik begin hardloop.
“Die polisielede het die verdagte aangekeer en na verdere ondersoek is van die gesteelde goedere in sy besit gevind. Daar is op nog goedere by een van die verdagtes se huise beslag gelê,” het Dicks gesê.
Volgens die eienaar van die winkel, Abdi Karin, het hy eers die volgende oggend, toe hy die winkel oopsluit, gesien die winkel is beroof. Die diewe het glo die slotte met ’n bolt cutter geknip en die agterdeur oopgebreek om toegang tot die winkel te kry.
Abdi sê ook sy alarm het nie afgegaan nie. Hy sê die diewe is met meer as R30 000 se goedere weg.
Die drie vermeende diewe het gister vlugtig in die plaaslike hof verskyn op klagte van inbraak en diefstal.