Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting, Malusi Booi, het Woensdag 4 September na die vordering aan die opknappingswerk by die Dura-woonstelle kom kyk.
Volgens Booi, ’n voormalige proporsionele raadslid in wyk 32, het hy in sy tydperk hiér baie met die klagtes van inwoners van die woonstelle gewerk.
“Die rioolpype het vir baie hoofbrekens gegee aangesien mense in onderverdiepings gereeld gekla het dat woonstelle bo hulle se riool in hul huise lek as daar probleme is,” het hy gesê.
Booi voeg by: “Dit is die Stad se plig om sy huureenhede te onderhou en sodoende inwoners se veiligheid te waarborg.
“Die woonstelle met rioolpype wat binne die woonstel is en verouderde waterpype uit die Apartheidsera, word tans vervang en rioolpype word na buite geskuif,” het Booi aan Weskus Nuus verduidelik.
Hy sê voorts dat al die woonstelle in die dorp deeglik onderhou gaan word en die betontrappe, wat ook besig is om inmekaar te val, sal vervang word.