Ottomans oorheers Atlantis

Die Atlantis-krieketklub se naasbestes het Saterdag hul rieme styfgeloop teen ’n begeesterde Ottomans van Surrey Estate.


Die Atlantis-krieketklub se naasbestes het Saterdag hul rieme styfgeloop teen ’n begeesterde Ottomans van Surrey Estate.

Die tuisspan, wat eerste gekolf het, het ’n skaflike 196 lopies aangeteken, maar hul boulers kon egter nie die teiken help verdedig nie.

Carlo Solomons, ’n openingskolwer van Atlantis (60) en die middelordekolwer Anré Parring (64) was die enigste twee kolwers wat werklik enige weerstand kon bied, terwyl die veelsydige Marius Appolles ook ’n skaflike 22 lopies bygedra het.

Atlantis se naasbestes het egter die seisoen nog nie die veld aan die brand gespeel nie, maar ’n paar keer naby aan ’n oorwinning gekom.

Ottomans se kolwers het nie op hulle laat wag en die tuisspan se boulers behoorlik gestraf. Die besoekers het die wenteiken reeds in die 38ste boulbeurt behaal, met nog drie paaltjies staande.

Die WP-eendagwedstryd was die tuisspan se agtste en hy het nog net een keer die soet van ’n oorwinning gesmaak.

Atlantis se boulers het moedig probeer – Thorne Crow het 2/20 in sy 6.1 boulbeurte behaal; Aziz Adams 1/22 in vyf, Llewellyn Lackay 2/48 in sewe beurte, Imtiyaaz van Rheede 40/1 in 10 en Hassan Habib 1/17 in drie.

Langa, wat die Baggy Blues se bestes in Atlantis sou pak, het weggebly.

You need to be Logged In to leave a comment.