Oud-Hamlets-netbalspelers ouer as 60 het Saterdag 29 Oktober by Dawn Petersen (juffrou Dawn) se woning in Mamre byeengekom vir ’n terugblik na die prestasies en gloriejare van hul kameraadskap.
Die Hamlets-netbalklub is in 1961 gestig en het sedertdien diep spore in Boland- en WP-netbal getrap.
Wilma Meyer en Petersen, twee van die stigsterslede, het die groep in Mamre onthaal.
Volgens Petersen was Hamlets in sy gloriejare vir 21 jaar agtereenvolgens die Swarland-netbaluniekampioene en dit was enige span se droom om die Hamlets-netbalspan in ligawedstryde te klop. Die Never Despairs-netbalklub se A-span kon dit eers ná 22 jaar regkry toe hulle Hamlets ontkroon het – iets wat die trane vandag nog laat vloei.
“Hoogte- en laagtepunte was daar baie, maar ons het nie dat dit ons onderkry nie. Dissipline, spanwerk en kameraadskap was van die sterkpunte wat ons sonder twyfel bo ander spanne laat uitstyg het,” het die oudspelers gesê.
Ná ’n harde wedstryd destyds in Vredenburg moes die bestuur Hamlets in ’n unievergadering verteenwoordig. Die spelers moes wag tot die vergadering verby was, en omdat daar net een minibus was, kon die spelers nie vertrek nie, maar hulle moes vir die bestuurslede wag voor hulle huiswaarts kon keer.
Die versoeking onder die jonger spelers, Barbara van der Westhuizen, Mary Petersen, Hilda Cleophas (Golden Brown) en Lorraine Moses om vriende tydens die vergadering te besoek, het die oorhand gekry, en hoewel hulle geweet het dit is verkeerd, het hulle dit steeds gewaag. Die eindresultaat was dat hulle alleen agtergebly het omdat hulle nie by die oplaaipunt was nie. Hulle moes oorslaap en die enigste manier om hul roete die volgende dag terug huis toe te vind, was om met die outydse spoorwegbus terug Mamre toe te ry.
Tot vandag toe waag nie een van die jonger spelers om Helen Witbooi, Mertle Arendse, Jasmine Wagenaar, Catherine London en van die ander oudspelers se versoeke te verontagsaam nie, want hulle weet wat die gevolge daarvan kan wees.
Dit is hierdie waardes wat die Hamlets-netbalklub se span ’n topspan en gedug gemaak het, onthou die groep. Vandag word hierdie waardes steeds onder die jonger spelers toegepas.
Die oudspelers hoop die nuwe geslag wat die klub tans bestuur, sal die sterk riglyne van hul voorgangers aanhou nastreef en die Hamlets-netbalklub weer suksesvol maak.





