Die voormalige rugbyafrigter van Mamre, wat op vyf aanklagte van verkragting en die besit en vervaardiging van kinderpornografie verskyn, se saak is tot 23 Februarie aanstaande jaar uitgestel.
Die verdagte, wat op 17 November in die hof verskyn het, het weer sy regsverteenwoordiger die trekpas gegee, maar die hof is nou keelvol vir sy speletjies. Die landdros het die verdagte gewaarsku dat sy verhoor met sy volgende verskyning sal voortgaan – met of sonder ’n regsverteenwoordiger.
Die verdagte, wat op 23 Augustus ’n moontlike pleitooreenkoms met die staat sou aangaan, het egter sy prokureur op dié dag gepos en die saak moes weer uitgestel word. Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het bevestig dat ’n moontlike pleitooreenkoms op 23 Augustus aangegaan sou word, gevolg deur die vonnisoplegging.
Die verdagte, wat hom as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen en slagoffers glo só geteiken het, is in Maart 2020 aangekeer toe ’n 16-jarige slagoffer alarm gemaak het. Die verdagte het vroeër aangevoer geen bewyse van sy beweerde dade bestaan nie en dit is net “hoorsêgetuienis”.
Die staat het egter die teendeel bewys toe die verdagte en sy vorige regsverteenwoordiger tydens sy verskyning op 2 Desember verlede jaar die bewyse teen hom gesien het nadat die saak reeds telkemale vir dié doel uitgestel is. Die verdagte is op 29 Julie verlede jaar weer aangekeer nadat nog ’n klaer ’n klagte van verkragting teen hom aangemeld het.
“Die hof moet asseblief nie die bewyse ignoreer nie en eers met die slagoffers konsulteer voordat hulle op ’n vonnis besluit,” het Janine Passenz van die Survivors Haven-stigting gesê.
Volgens haar voel hul organisasie die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf moet oorweeg word omdat die trauma wat die verdagte aan die jong meisies veroorsaak het, vir altyd met hulle sal wees.
Sy het ook gal gebraak oor die trauma wat slagoffers die afgelope twee jaar moes deurmaak en voel die verdagte het die staat se tyd en geld in dié tyd gemors.