Oudinwoner motiveer almal

Hermes Primêr het Vrydag 19 Okto­ber oudleerders en dié wat tans matriekeksamen skryf by die skool onthaal om hulle sterkte toe te wens.


Hermes Primêr het Vrydag 19 Okto­ber oudleerders en dié wat tans matriekeksamen skryf by die skool onthaal om hulle sterkte toe te wens.

’n Vingerete is bedien en ’n motive­rings­praatjie is deur Shuneen van Niekerk (27) van Atlantis gehou.

Shuneen moes as vyfjarige destyds by familie in Atlantis kom woon nadat haar ma wreed vermoor is. Sy het haar skoolloopbaan by Grosvenor Primêr begin. Sy het later as negejarige haar pa ook verloor.

Dié terugslag het haar nie ondergekry nie en sy was tot gr. 9 ’n leerder by Saxon Sea Sekondêr tot sy ’n beurs van die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) ontvang het om haar skoolloop­baan in Simonstad te voltooi.

“Dit was ’n groot aanpassing vir my, want alles was in Engels en ek moes ook in die koshuis bly – weg van my familie en vriende. Daar was tye wat dit baie moeilik was omdat ons ’n baie hegte familie was, maar ek het deurgedruk.

“In 2009 het ek in Simonstad gematri­kuleer. In dié jaar was ek bevoorreg om van Kaapstad tot Durban te seil en dit was ’n onvergeetlike ervaring. Dit is waar my liefde vir bote en die see begin het, want voor dit het ek geen praktiese ervaring gehad nie, behalwe dit wat ons in die klas geleer het.”

In 2010 het sy by die Kaapse Skierei­land-Universiteit vir Tegnologie se Granger Bay-kampus begin waar sy maritieme-studies gestudeer het.

In 2012 het sy as ’n kadet by SA Agulhas aangesluit.

“Ek het die voorreg gehad om Antarktika te besoek en ook vir Prins Charles van Engeland te ontmoet. Ek het vir 16 maande my seeprakties gedoen en het minstens tien lande gesien.”

In 2014 het sy haar “seetyd” voltooi en in 2016 het sy verder gaan studeer en haar diploma in maritieme-studies voltooi.

Sy is tans in Kaapstad gestasioneer en werk op die sleepbote.

Haar toekomsplanne is om ’n sleepbootkaptein te wees en oor vyf jaar hopelik ’n loods.

You need to be Logged In to leave a comment.