Ouers ongelukkig met 2 se vonnis

Die moord op Brayden Graaff (2) was genadeloos en wreed, hoewel die koeël wat sy dood veroorsaak het, nie vir hom bedoel was nie.


Die moord op Brayden Graaff (2) was genadeloos en wreed, hoewel die koeël wat sy dood veroorsaak het, nie vir hom bedoel was nie.

Só het regter Thandazwa Ndita by die peuter se moordenaars, Renaldo Galant en Charlton Renier, se vonnisoplegging gesê.

Galant en Renier, het Maandag 4 Februarie in die Wes-Kaapse hooggeregshof hul lot gehoor vir die moord op die toe twee-jarige Graaff.

Brayden is 22 Oktober 2016 in sy ma, Rostan, se arms geskiet terwyl hulle in Babblers Place-woonstelle gekuier het. Die twee was lede van die G-Unit-bende in Atlantis en het sedert hul aanhou­ding in Pollsmoor by die 27’s- tronk­bende aangesluit.

Volgens Ndita het nie een van hulle berou getoon nie.

“Maar hulle is al twee eerste oortreders. Wat in Galant se guns tel, is dat hy ’n minderjarige was toe die misdaad gepleeg is,” het Ndita gesê.

“Daar was ook genoeg bewyse dat hy nie die skieter was nie, maar wel deel aan die voorval gehad het,” het die regter bevind. “Renier was die skieter in die voorval,” het Ndita in haar vonnisoplegging gesê.

“Sy vonnis moet gepas wees vir die misdaad wat gepleeg is.” Renier is in September skuldig bevind op sewe aanklagte onder meer moord, twee aanklagte van poging tot moord, die oortreding ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca), die besit van ’n vuurwapen en ammunisie, asook een van aanranding.

Galant is ook op alle klagte behalwe die aanranding skuldig bevind. Ndita het Galant vir 12 jaar tronk toe gestuur vir die moord op Brayden terwyl Renier 20 jaar gekry het vir die moord.

Hulle is tot tien jaar gevonnis vir elke poging tot moord. Hulle het drie jaar gekry vir die oortreding ingevolge die Poca-wet en vyf jaar vir die besit van ammunisie en ’n wapen sonder lisensie. Renier het ’n ekstra vyf jaar vir die aanrandingsklag gekry. Galant en Renier het wit kofias aangehad.

Toe hulle hoor hulle kry nie lewenslange tronkstraf nie, het hulle verlig voorgekom en Renier het selfs geglimlag. Brayden se ouers was merkbaar ongelukkig met die vonnis.

Pa Brandon Spencer sê hulle het ’n swaarder straf verwag. “Ek is net bly dis klaar. Nou kan ons aangaan met ons lewe.” Graaff sê sy sal die moordenaars nooit kan vergewe nie. “Hulle het my kind weggevat.”

Die paartjie het nou ’n drie maande oue baba waaroor hulle overprotective is en sê dit is nie ’n lekker gevoel om heeltyd bang te wees dat iets met jou kind kan gebeur nie,” sê Spencer.

You need to be Logged In to leave a comment.