’n Man van Atlantis moet nou koes-koes deur die strate loop omdat sy eksvrou en haar kinders hom glo wil seermaak omdat hy haar glo “betrap” het.
Die man (wat nie genoem mag word nie) vertel sy nagmerrie met sy tweede vrou het verlede jaar in Mei begin toe hy haar vir die tweede keer betrap het waar sy na bewering met sy kleinkind se borsies speel. Hy vertel sy het gestry, maar die negejarige het bevestig dat haar stiefouma dit glo gereeld doen as hy kerk toe gaan of saans nie tuis is nie. Die oupa sê hy is moeg vir die “siek vrou” wat sy kleinkind betas en het onmiddellik die polisie laat weet. Die 56-jarige ouma is vir seksuele aanranding toegesluit en is op borgtog van R500 vrygelaat nadat sy in die plaaslike landdroshof verskyn het.
Die bekommerde oupa sê hy leef nou in vrees omdat die verdagte se kinders hom gereeld dreig met die dood. Die familie het hom glo ook al by die kerk met ’n mes kom dreig ten aanskoue van die gemeentelede. Die man het intussen ’n beskermingsbevel teen sy gewese vrou en haar kinders gekry en het haar ook gedagvaar om ’n egskeiding. Die vrou verskyn 13 Maart weer in die plaaslike hof.