Kinders moet gesien en beskerm word en nie seergemaak word nie.
Só het landdros Da-Rocha Boltney in haar uitspraak gesê waarin ’n 62-jarige man van Saxonsea op 27 Februarie tot 30 jaar tronkstraf opgelê is weens verkragting.
Weskus Nuus het voorheen berig die man is op sy verjaardag op heterdaad betrap terwyl hy sy tong in die sewejarige se private dele gedruk het.
Die man is met die dogtertjie se ouma getroud en glo ’n “oupafiguur” vir haar kleinkinders.
Die slagoffer se tante het toe aan Weskus Nuus vertel, die man het gesê “die kind het daarvoor gevra”.
Volgens die familie was dit nie die eerste keer dat die oupa met een van die kinders lol nie, maar “hulle het hom die vorige keer vergewe”.
“My kinders en kleinkinders het hom soos ’n pa en oupa aanvaar en hy het gereeld die kleinspan met lekkergoed bederf,” het die ouma toe aan Weskus Nuus gesê.
Familielede sê hulle gee nie om wat van die oupa in die tronk word nie, want die kind gaan die voorval vir die res van haar lewe onthou.
“Ons is net bly dat reg en geregtigheid geskied,” het die slagoffer se ma ná die uitspraak gesê.
Gemeenskapslede het met die hofverskynings gereelde betogings buite die Atlantis-hof gehou en daar was selfs geëis dat die oupa “ontman” moet word.
Kampvegter vir vroue- en kinderregte, Barbara Rass, sê sulke mense moet uit die gemeenskap verwyder word.
Sy het ook die ondersoekbeampte in die saak ao. Jaftha August, geprys vir sy deeglike ondersoekwerk en dat hy verseker het die oupa word nie op borgtog vrygelaat nie.
“Verkragting is een van die groot probleme in Atlantis en die regstelsel moet geen genade aan oortreders toon nie,” het Rass gesê.
. Die dwelmverslaafde wat sy ma verlede jaar verkrag het se verhoor het 5 Maart begin. Die beskuldigde is borgtog geweier en steeds in aanhouding. Die 23-jarige verdagte het na bewering sy ma in haar slaap verkrag. Die slagoffer se suster het vertel sy het deur die slaap gedink dis haar man, maar het later besef dis haar seun. Die verdagte het die hasepad gekies toe hy gekonfronteer word, maar is kort daarna in hegtenis geneem.