“Hy het my gereeld na die bosse geneem, waar hy sy vinger gebruik het . . . en het dan die waslap gevat en my skoongemaak.”
Só vertel ’n dapper sewejarige meisie van haar “geliefde” oupa se dade.
Dié oupa van Robinvale is Woensdag in hegtenis geneem en verskyn Vrydag 1 Desember in die Atlantis-landdroshof op aanklag van verkragting.
Kapt. Joggie von Wielligh, bevelvoerder van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) sê dit was aanvanklik onduidelik wie die dade gepleeg het.
“Die meisie wou eers nie praat nie en die oupa het volgehou dat dit die kind se oom is,” verduidelik Von Wielligh.
Die sewejarige se ouma vertel haar kleinkind het haar ’n paar weke gelede in die pad gewaar en na haar gehardloop en geskree: “Mamma, mamma, kom haal my asseblief, want oupa krap nog steeds aan my!”
Die ouma, wie se naam nie genoem kan word nie om die kind se identiteit te beskerm, vermoed dat die oupa – van die meisie se pa se kant af – reeds ’n geruime tyd aan haar kleinkind “krap”.
“Hy (die oupa) beskuldig egter my gestremde seun,” sê sy.
Die ouma vertel dat die nagmerrie begin het toe haar dogter, wat verslaaf is aan dwelms, na ’n rehabilitasiesentrum wou gaan om haar lewe te gaan regruk.
“Sy was vir ses maande in rehab. Die oupa wou met alle mag toesig hê oor die kind.
“In Februarie, nadat my kleindogter by die oupa gekuier het, het sy eendag paniekbevange geskree nadat sy in die toilet was. Daar was ’n afskeiding op haar onderklere. Haar privaatdele was ook erg rooi. Ek het onmiddellik onraad vermoed.”
“Sy het uiteindelik aan my vertel, ‘dis oupa wat sy vinger in my opgedruk het’. Ek was lam van skok en het hom gaan konfronteer, maar hy het eerste polisie toe gegaan en my seun gaan beskuldig,” vertel die hartseer ouma.
Maatskaplike werkers het die sewejarige in die oupa en sy vrou se sorg geplaas. Die dapper kleintjie het ook aan Weskus Nuus se verslaggewer vertel hoe haar oupa die dade met haar gepleeg het.
“Hy (oupa) het gesê ek moet sê dis my oom wat die goed doen anders sal hy my vingers en tone afkap,” het die dogtertjie vertel.
Von Wielligh het bevestig dat die oupa in hegtenis geneem is en dat hy Vrydag in die landdroshof op Atlantis gaan verskyn.