Pa soek ‘justice vir Jesse’

“Hulle moet almal boet vir wat hulle aan ons onskuldige sewejarige kind gedoen het,” meen Grant Stevens, pa van Jesse, wat verlede jaar deur ’n vierwielmotorfiets doodgery is.


“Hulle moet almal boet vir wat hulle aan ons onskuldige sewejarige kind gedoen het,” meen Grant Stevens, pa van Jesse, wat verlede jaar deur ’n vierwielmotorfiets doodgery is.

Stevens sê hy is verheug dat die dos­sier, wat vir lank gesoek was, uiteinde­lik weer te voorskyn gekom het en dat die verdagte wel voor die hof gedaag gaan word om rekenskap te gee.

Jesse is aan die einde van Julie 2017 deur die motorfiets op die sypaadjie getref en het op die toneel in Notting­ham­weg, Sherwoodpark aan sy bese­rings beswyk. Die verdagtes, almal toe minderjariges, het weggejaag.

Volgens Stevens was hulle soms baie moedeloos omdat niemand kon sê waar die dossier is nie. Daar was selfs onbe­ves­tigde gerugte dat polisiebeamptes betaal is om dit glo te laat “wegraak”.

Volgens kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder, was die dossier nooit weg nie en is dit by die Wes-Kaapse hooggeregshof opgespoor.

Hy sê voorts die dossier is weer na die departement van openbare vervol­ging vir ’n beslissing verwys.

Volgens ’n betroubare bron is dit na die departement verwys sodat daar be­sluit kan word wie almal saam met die minderjarige verdagte aangekla moet word. Die bron het verklap dat die pa van een van die verdagtes ook moontlik aangekla kan word. Stevens het op dié nuus gesê dit sal reg wees dat die verdagte se pa ook aangekla word, want hulle was “arrogant met ons en het nie een keer na ons uitgereik nie”.

Stevens sê hy hoop hulle boet “vir wat hulle aan ons gedoen het”.

You need to be Logged In to leave a comment.