Paartjie se moord glo bendeverwant

Twee mense is Donderdag (8 Novem­ber) in die vroeë oggendure in ’n park in Starlingweg, Robinvale, doodge­skiet.


Twee mense is Donderdag (8 Novem­ber) in die vroeë oggendure in ’n park in Starlingweg, Robinvale, doodge­skiet.

Dié paartjie het na bewering in die parkie gekuier toe daar op hulle geskiet is.

Shawn de Jongh (36) is met sy aankoms by die hospitaal dood terwyl Janine Jacobs (26) op die toneel aan haar wonde beswyk het.

Volgens ’n ingeligte bron was De Jongh lid van ’n prominente bendegroep en Jacobs ’n staatsgetuie in ’n moordsaak wat eersdaags in die hooggeregshof sou begin.

Die bron vertel ook dié voorval kan dalk tot wraakaanvalle lei.

Dié bendeverwante moord volg nadat president Cyril Ramaphosa Vrydag 2 November die nuwe bende-eenheid bekendgestel het.

Netwerk24 berig, die bende-eenheid bestaan uit ’n toegewyde span speurders met ondervinding van bendegeweld, reeksverkragtings en ondersoekwerk ten opsigte van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca).

“Die eenheid gaan oor die Skiereiland ontplooi word totdat gemeenskappe wat onder bendegeweld gebuk gaan na normaal terugkeer,” het Reneilwe Serero, woordvoerder van polisieminister Bheki Cele gesê.

Die uitgesoekte polisielede gaan sigbare polisiëring doen en bestaan ook uit speurders en lede van die taktiese reaksie-eenheid. Dié polisielede gaan by 21 polisiekantore op die Kaapse Vlakte en elders in die Kaapse Skiereiland werk.

Ramaphosa het inwoners gemaan om die polisie te help.

“As julle inligting het wat kan help om bendelede te vang, gee dit aan die polisie deur,” het hy gesê.

Genl.maj. André Lincoln, hoof van die bende-eenheid het Atlantis in Oktober besoek.

By dié gemeenskapsvergadering het hy inwoners verseker dat die nuwe eenheid ’n sukses gaan wees en gesê: “Ons gaan slaan en ons gaan hard slaan”.


. Lt.kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die dubbelmoord bevestig en gesê dat nog niemand in hegtenis geneem is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.