Die gemeenskapsaktivis Peter Stoffberg meen die proses was nie deursigtig nie.Foto: Clement Trussell


Magsbeheptheid, korrupsie, bedrog, afdreiging, diskriminasie, intimidasie en beloftes van ’n stem in die komitee.

Dit is maar net van die bewerings teen die komitee wat die gemeenskap by die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (SES) moet verteenwoordig.

Talle inwoners voel die SES “gaan net sekeres bevoordeel en nie die gemeenskap in geheel nie.”

Pres.Cyril Ramaphosa het by die amptelike bekendstelling in Desember verlede jaar gesê die gemeenskap moet in die proses verteenwordig word.

Green Cape, wat die proses fasiliteer, het dié proses begin met ’n rits inligtingsvergaderings en gevra vir benoemings vir die komitee. Nadat verskeie vergaderings en verkiesings gehou is, is die Atlantis- spesiale ekonomiese sonekomitee (ASES) verkies.

Die ASES-bestuurskomitee bestaan ook uit verteenwoordigers van die Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse provinsiale regering, die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme en die departement van handel en nywerheid.

Die gemeenskapsaktivis Peter Stoffberg is een van die mense wat kapsie teen die keuringsproses gemaak en appèl aangeteken het. Stoffberg het in sy appèlaansoek aan Green Cape gesê die oorsigkomitee “het sy hand oorspeel en die proses moet in die belang van gemeenskaps­betrokkenheid oorgedoen word”.

Hy het verder in die verslag, wat in Weskus Nuus se besit is, gesê lede op die komitee het vals dokumente ingehandig en geld is aan minstens een organisasie belowe om die uitslag van die verkiesing te bepaal. Stoffberg sê ook die manier waarop die setel vir opvoedkunde gevul is, is ’n gekonkel aangesien ’n vrou glo benoem is, maar die uitslag wys ’n man het die setel gewen.

Volgens Theunis Mack van die SA Residents Civic Organisation (Sarco) het hy in sy appèl aangevoer “die meerderheid het geen sê in die proses gehad nie en die komitee wat verkies is, verteenwoordig nie die gemeenskap nie”.

Volgens Ursula Wellman van Green Cape het vier organisasies teen die beslissing appelleer en het die ASES-bestuurs­komitee die beweringe ondersoek.

Wellman sê ná verdere ondersoek is bevind dat “geen gronde bestaan om die uitslag tersyde te stel nie.”

Stoffberg sê hy het strafregtelike klagte aanhangig gemaak teen lede van die komitee en regsadvies word ingewin.

“Ek het ook ’n klag van intimidasie teen die voorsitter van die oorsigkomitee prof. Brian Williams, ingedien,” het Stoffberg gesê.

’n Tweede klaer, wat anoniem wil bly, het aan Weskus Nuus bevestig dat sy ook bedrogklagte by die polisie aangemeld het. Sy wou nie veel uitbrei nie, maar het belowe om haar klagte binnekort te verduidelik.

Kapt. Cyril Dicks, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat klagte van bedrog en intimidasie deur die Atlantis-polisie ondersoek word, maar kon nie teen druktyd bevestig teen wie die klagte aanhangig gemaak is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.