Die Atlantis-gemeenskap is Donderdag 7 Februarie geskok nadat die lyk van ’n pasgebore babameisie in ’n vullisdrom ontdek is.
Die lykie, toegedraai in ’n swart broek, is sowat 04:00 die oggend in ’n groen vullisdrom agter die polisiekantoor gevind.
Megan Toelie vertel haar vriend het die oggend dié gru-ontdekking gemaak toe hy vroegoggend in die drom gekrap het.
“Hy het heel histeries na my geroep en gesê daar lê ’n kind in die drom. Toe ek die broek uit die drom haal, val die kindjie uit die broek,” vertel Toelie.
Sosiale media het minute ná die voorval reeds begin gons en ’n groep inwoners het naby die toneel vergader.
“Sy kon net aan my deur kom klop het en die baba daar gelaat het,” het een inwoner gesê. “Nie eers ’n hond gooi haar kleintjies weg nie,” vertel ’n ander.
Volgens ’n inwoner, wat by die nabygeleë woonstelle woon, het die meisie in die vroeë oggendure voor die ingang van die winkelsentrum (aan die MyCiTi-kant) gekraam.
Dié inwoner glo die vrou was by die hospitaal en is dáár weggewys. Die vrou vertel verder dat die ma glo die kind se naelstring met ’n stuk glas gesny het en aan ’n ander persoon wat saam met haar was, en wie se naam bekend is aan Weskus Nuus, gegee het om van dit ontslae te raak.
Inwoners het die persoon, wat na bewering die baba in die drom gegooi het, gekonfronteer, maar hy het alles ontken.
Volgens Monique Johnstone, woordvoerder van die departement van gesondheid, is die beweringe van alle waarheid ontbloot. “Wesfleur-hospitaal het geen rekord van ’n swanger pasiënt wat daar was om te kraam nie.” Johnstone sê voorts dit is teen die departement se beleid om pasiënte weg te wys.
Nóg twee inwoners van die woonstelblok, wat direk oorkant die ingang geleë is, het aan Weskus Nuus vertel dat nagskofwerkers van die winkelsentrum buite voor die gebou, waar die vrou glo gekraam het, tussen 02:00 en 03:00 skoongemaak het.
Met Weskus Nuus se besoek net na 07:00, was die gebied steeds nat, maar daar was geen teken van bloed nie. Elizabeth Alexander, wat ook in die woonstelblok woon, meen die ma, wat glo ’n tikverslaafde is, moet aan die gemeenskap gegee word “sodat sy goed geslaan kan word”.
Sers. Noloyisa Rwexana, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “ ’n Saak van verberging van geboorte word tans ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.” Volgens die polisie kan slegs ’n lykskouing bepaal of die kind nog gelewe het toe sy in die vullisdrom gegooi is.