Van hierdie pasiënte het twee dae lank by die hospitaal gesit en gewag om behandeling te ontvang.Foto: Murphy Roberts


“Dienslewering by Wesfleur-hospitaal is pateties.”

Dit is die mening van sowat 50 pasiënte wat onlangs vir WeskusNuus gekontak het om hulp, nadat hulle lank gewag het om behandel te word.

Die ses maande swanger, Robin Apollis (20), sê sy het vir haar ongebore kind se lewe gevrees. Apollis het glo begin bloei en pyne gekry, maar verpleegsters by die hospitaal het na bewering net gesê sy moet op ’n bed gaan lê en “wag tot die baba kom, want die baba is besig om af te kom”.

“Ek was daarna vir ’n week elke dag by die hospitaal, maar moes keer op keer hoor dat die baba is besig om af te kom, maar dan voel ek hoe woel die baba in my. Die mense gee nie om wat van ons word nie,” voeg Apollis by.

’n Ander inwoner, Chantal Jansen (35), braak ook gal oor die dienslewering by die hospitaal. Volgens Jansen het sy onlangs haar man, wat aan hoë bloeddruk ly, hospitaal toe gebring nadat bloed onophoudelik by sy neus begin uitloop het.

“Observasies is die oggend gedoen, maar teen die middag het ons nog nie ’n dokter gesien nie. Nadat ek navrae gedoen het, het hulle ons meegedeel dat daar nie dokters beskikbaar is nie en dat ons geduldig moet wees,” het Jansen gesê.

Ronald Kayster (24), vertel hy is met ’n gholfstok aangerand. “Ek kon nie my arm beweeg nie. Hulle het my huis toe gestuur sonder dat iemand na my arm gekyk het en net gesê ek moet maar weer terugkom,” het hy vertel.

Die 69-jarige, Zayro Allard, is deur ’n hond gebyt en het ook die oggend na die hospitaal vir behandeling gegaan. Die middag na 17:00 het sy steeds gewag dat iemand haar moet ondersoek.

“Wanneer ons vra wanneer ons gehelp gaan word, raak die hospitaalpersoneel aggressief,” het Allard vertel.

Given Nofonta, was in ’n motorongeluk en het ook heeldag vir behandeling gewag.

“Ek kry seer wanneer ek asemhaal, maar ek sit maar hier en wag tot wanneer iemand na my kan kyk of X-strale neem,” verduidelik hy.

Volgens Monique Johnstone, woordvoerder van die Wes-Kaapse department van gesondheid, sal klagtes oor lang wagtye by die noodgevalle ondersoek word. Die hospitaal moedig ook pasiënte aan om kontak te maak met die bestuur of om die dagkliniek te besoek vir verdere sorg.

Sy sê voorts, Wesfleur-hospitaal het dokters aan diens gehad, maar was oorval met ernstige noodgevalle.

Raadslid Barbara Rass, wat ook op die hospitaalraad dien, sê inwoners moet nie langer die tweedehandse behandeling duld nie.

“Die hospitaalraad moet ook verantwoordelikheid aanvaar en die gemeenskap se belange eerste stel.”

  • Pasiënte word aangemoedig om eers met die hospitaalbestuur te kontak, maar indien dit nie help nie, kan die departement van gesondheid direk gekontak word by 0860 142 142 of stuur ’n Please Call Me na 079 769 1207 met enige klagtes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article